Luister na 100 liedjies in 100 dae.
Dit was Bloemfonteinse musikant en regisseur Anton Esterhuyse se plan om Afrikaans wat vanjaar sy 100ste bestaansjaar as taal herdenk, te vier.

Jones (dit is haar honde), Anton Esterhuyse en Willem van der Merwe.
Esterhuyse het saamgespan met Zita Olinger en haar span van Zita Filmz om elke dag sedert 29 Januarie ‘n video van ‘n Afrikaanse liedjie te vertoon.
Anton Esterhuyse en Vrinne se 100 Afrikaanse Liedjies is ‘n liedjiereeks uit Bloemfontein vir hierdie groot viering van die taal.
Hy sê hulle het met die eerste 20 opnames in Desember begin en nog ‘n rits opnames in Februarie en Maart gedoen.
“Ons tydsberekening moes mooi wees, omdat ons elke dag sedert 29 Januarie ‘n liedjie wou vrystel met die laaste een wat op 8 Mei val om saam met Afrikaans se groot verjaardag te val,” verduidelik Anton. “Ek het die liedjies gekies en verwerk sodat hulle uniek is, maar ook eg Afrikaans bly.”
Hy verduidelik hy het geluister na musiekopnames soos Huisgenoot-skouspel, maar ook die FAK-liedboek en geestelike musiek bestudeer om die versameling vol te maak.
Bloemfonteinse kunstenaars soos Mario Lategan, Ilse Fourie, Jacobus Silwer, Ella Kotze, Thabo Hlongwane en Cèzanne Yzelle is sommige van die sangers wat te sien is.
Daar is egter ook bekende kunstenaars soos Coenie de Villiers, Matthys Roets, Jennifer Jones en die Drakensberg-seunskoor wat hul bydra gelewer het.
Talle kore en musiekgroepe verskyn ook in die videos. Dit sluit EduPlus se senior koor, die Hoërskool Fichardtpark se skoolkoor, Eunice en Grey se marimbaspelers, die Alumni Voices, die Rhapsody-orkes en die Universiteit van die Vrystaat (UV) se koor in.
“Die opnames is baie werk, maar groot pret. Toe ons hoor van die Drakensberg-seunskoor se optrede vroeg in Maart in Bloemfontein, het ons gespring om te hoor of hulle nie vir ons kan help met een liedjie se opname nie.”
Die opname van hul liedjie word Vrydag 4 April vrygestel.
Anton sê die projek het ‘n borgskap van die ATKV gekry om reiskostes en sulke uitgawes te dek.
Hy sê daar was vir hom talle hoogtepunte. “Ek wou nog altyd die fluit-gedeelte in ‘Liedjie vir jou’ speel. Dit was lekker om dit saam met Jannie du Toit en Arco Musica te kon opneem,” vertel hy.
Nog ‘n hoogtepunt was die opname van “Sonvanger” wat die blinde Bloemfonteinse sanger Riaan Naudé saam met Grey en Eunice se marimbas gesing het. Dit het presies gekom soos ek dit gevisualiseer het. Dit is baie lekker as ‘n mens jou iets voorstel, en die eindresultaat is presies reg.”
Op Sondae is die liedjies wat op Zita Flilmz se Youtube-kanaal vrygestel word, van geestelike aard. Dit sluit in ‘Somerkersfees’ deur Jana Stoltz op 2 Maart, ‘Leeu van Juda’ deur Eugene du Randt en die ‘Magaliesburgse aandlied’ deur die Alumni Voices die afgelope Sondag.
Daar is ook prettige liedjies. So het akteur en komediant Hennie Smit groot pret gehad toe hy saam met Milann Marais en Sias Sevenster “Dapper Muis” gesing het. Heinrich Lategan, Petro Engelbrecht en Anton (Three’s a crowd) het weer hul mannewales op drie klaviere uitgehaal met die speel van “Jan Pierewiet” en die Grafsteensangers se “Trein na Pretoria” kom ook binnekort aan die beurt.
Sien die video’s soos wat hulle daagliks gelaai word op Youtube of volg dit op Anton se Facebookblad. Kyk na al die video’s en begin solank raai wat die laaste een gaan wees.
You must be logged in to post a comment.