Worcester Standard & Breederivier Gazette

Ashton se Tiger Brands inlegfabriek kry nuwe base

Die onsekerheid oor die toekoms van die fabriek was vir lank ‘n donker wolk oor die gemeenskap. Die nuus dat dit gaan voortgaan, bring groot verligting.

Inwoners is verlig ná die nuus dat Langeberg en Ashton Foods oorgekoop gaan word en werksgeleenthede behoue gaan bly.

Inwoners van Ashton slaak ‘n groot sug van verligting ná jare van onsekerheid oor die toekoms van die inlegfabriek, Langeberg and Ashton Foods. Tiger Brands het aangekondig dat hy ‘n ooreenkoms aangegaan het om die fabriek aan ‘n konsortium plaaslike vrugteprodusente te verkoop.

Dit beteken dat 3 000 permanente en seisoenale werksgeleenthede nie verlore sal gaan nie – iets wat ‘n enorme impak op Ashton, met sy rapsie meer as 13 000 inwoners, sou gehad het. Sowat 250 plaaslike vrugteprodusente lewer hul vrugte aan die fabriek, wat in 1940 gestig is.

Die fabriek, wat ingelegde vrugte onder die handelsnaam Koo aan Tiger Foods verskaf, word as ‘n lopende saak vir R1 aan die nuutgestigte NewCo verkoop. As deel van die verkoop sal Tiger Brands R150 miljoen aan ‘n gemeenskapstrust bewillig, wat tot die voordeel van die groter Langeberg-gemeenskap bedryf sal word, het die maatskappy gesê. Dié trust sal uiteindelik ‘n belang van 10%-aandeelhouding in NewCo besit, met die balans van die ekwiteit wat aan NewCo behoort.

NewCo bestaan uit vrugteprodusente van die Ashton Fruit Producer’s Co-operative, wat in 2020 deur boere in Roberston, Ceres, die Breederivier en Klein-Karoo gestig is nadat Tiger Brands in daardie jaar aangedui het hy wil onttrek.

‘n Instelling wat ontwikkelingsfinansiering doen en ‘n mandaat vir werkskepping het, is ook deel van NewCo. Daardie gunsteling-blikkie Koo- ingelegde vrugte sal steeds op winkelrakke pryk, met ‘n ooreenkoms dat NewCo steeds aan Tiger Brands sal verskaf. Benewens Koo-vrugte het Langeberg and Ashton Foods geblikte vrugte en purees vir Tiger Brands se uitvoermarkte vervaardig – wat meer as 80% van sy werksaamhede behels het.

Die gemeenskap het oor die jare swaar gesteun op die fabriek wat die grootste werksverskaffer in die omgewing is. Volgens ‘n verklaring deur Tiger Brands is vrugte van sowat 250 plaaslike vrugteprodusente, wat almal GAP-geakkrediteer (goeie globale landboupraktyke) is, aangekoop.

Deur Langeberg and Ashton Foods is verskeie projekte aangepak om die gemeenskap te ondersteun, soos die skenk van maandelikse kospakkies aan arm gesinne, en sopkombuise. Skole in die omgewing is deel van Eduplant, Tiger Brands en Food and Trees for Africa se projek om voeding deur middel van groentetuine by skole te verbeter. Die Tiger Brands-stigting se nasionale skoolontbyt-program is by laerskole in die omgewing aangebied. Die maatskappy het R1 miljoen geskenk vir die ontwikkeling van ‘n opleidingskombuis by die nuwe Ashton Vocational Academy. Kragopwekkers van meer as R1 miljoen is voorheen aan die plaaslike munisipaliteit geskenk om te help met watervoorsiening aan die dorp gedurende kragonderbrekings.

Die burgemeester van die Langeberg-munisipaliteit, die raadsheer Schalk van Eeden, het die nuwe eienaars alle voorspoed toegewens.

“Die fabriek is lank reeds ‘n pilaar in die plaaslike ekonomie wat werk aan duisende mense verskaf en groot bydraes maak. Die skep van ‘n gemeenskapsfonds van R150 miljoen wys dat hy toegewyd is om sosio-ekonomiese probleme in die Langebergstreek die hoof te bied,” het Van Eeden gesê.

“Die munisipaliteit bly toegewyd daaraan om saam met alle rolspelers te werk om te verseker dat plaaslike ekonomiese ontwikkeling tot voordeel van ons mense kan groei.”

Wat sê die inwoners?

Onder inwoners en sakelui is die verligting dat die inlegfabriek nie tot niet gaan nie, groot. Marletta Munday van die Montagu-Ashton Toerisme-vereniging sê die sluiting van die fabriek sou ‘n rimpel-effek op ondernemings en toerisme in die Langeberg gehad het.

“Sy bestaan verseker goeie werk en investering in die omgewing. In ons gebied is toerisme baie suksesvol, maar baie daarvan is agri-toerisme, wat deur die sluiting geraak sou word. Die fabriek het ‘n uitwerking op die gemeenskap van ons omgewing en danksy dit word ons dorp goed en mooi onderhou en is ons dorp ‘n toerisme-aantreklikheid,” sê sy.

Fritz Breytenbach se pa en oom was van die eerstes wat in die 1950’s met perskes aan Ashton se kant van die berg begin boer het. Hy haal vanjaar op 85-jarige ouderdom sy 65ste oes af.

“Of die fabriek suksesvol gaan wees, moet ons nog sien, maar sy sluiting sal ‘n enorme invloed op die gemeenskap hê. Sou ek die inmaak-vertakking van my boerdery tot niet moes maak, sou die helfte van my werksmag sonder inkomste wees. As boere die perskes sou uitpluk en met wingerde vervang, gaan hulle heel moontlik meganiseer, wat ook werksgeleenthede sal kos. Dit neem etlike jare voordat ‘n wingerd winste sal inbring,” sê hy.

“Nog ‘n bekommernis is dat die woonbuurte waar die werkers woon, al groter word, maar al hoe minder werk beskikbaar is. Waarvan gaan die mense leef? Die boere is onder groot druk – van ons herstel nog van verlede jaar se vloedskade en bekommer ons oor die impak wat die Amerikaanse president, Donald Trump, se invoertariewe op ons produkte gaan hê. ‘n Mens sien al meer plase wat in die mark gesit word,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.