‘n 64-jarige vrou van Vredenburg het gelukkig betyds snuf in die neus gekry toe ‘n identiteitsdief haar bel met ‘n vet liegstorie oor ‘n pakkie aan iemand in Moembaai, Indië, wat by die Bloemfonteinse lughawe gevind is.
Erika Smalberger was verstom toe dié vreemdeling haar op die naam en van aanspreek en haar identiteitsnommer vir haar voorlees. Hy kon egter nie haar adres bevestig nie.
Die man het haar Maandag 17 Maart omstreeks 14:30 gebel en gesê hy bel van die Bloemfonteinse internasionale lughawe se doeanedepartement af. Die bedrieër het voorgegee daar is ‘n pakkie wat Smalberger aan ‘n man gestuur het – aan ene “Mr San Jasin, Shop 55, N4 Road, Ramchrimargar, Mumbai, India, 4005”. Hy het glo die afleiding gemaak omdat Smalberger se naam en van en identiteitsnommer as versender aangedui is.
Sy was stomgeslaan toe sy hoor dat die inhoud van die pakkie 16 leë paspoorte, 58 OTM-kaarte en 104 mg Ecstacy insluit. Smalberger is gedreig dat dié onwettige inhoud haar polisieklaringstatus gaan beïn-vloed. Die man wou haar daarna met alle mag “deursit” na die blitslyn van die bedrog-afdeling in Bloemfontein, maar Smalberger, wat teen daardie tyd besef het dat iets groot fout is, het op haar beurt aangedring om die nommer van die sogenaamde “blitslyn” en gesê sy wil dit self skakel.
Sy is gedreig dat ‘n strafsaak teen haar aangemeld gaan word omdat sy nie binne twee ure by die Bloemfonteinse polisiekantoor sal kan aanmeld nie. Toe sy egter vra of sy eerder na die naaste polisiekantoor toe kan gaan, het hy gesê sy kan nie, hy moet haar “deurskakel” na die bedroglyn toe. Smalberger het vermoed as sy “deurgesit” sou word, die volgende vraag oor haar bankbesonderhede sou gegaan het. Sy het later bloot die foon dood-gedruk nadat sy hom gepeper het met vrae wat hy nie kon of wou antwoord nie.
Sy is hierna onmiddellik na die Vredenburg-polisiekantoor toe. Terwyl sy daar was, het ‘n tweede man haar van ‘n ander nommer af gebel en haar die pakkie se verwysingsnommer “deurgegee” as “SA 683546170 Transaction 10 4018117 59 60 1212”, wat eindig met die datum as 7 Maart 2025.
Smalberger het haar selfoon vir die polisiebeampte gegee sodat hy self met die man kon praat. Die polisiebeampte het daarna vir haar gesê die man klink soos ‘n Nigeriër.
Terug by die huis het Smalberger die nommer vir die werklike doeanedepartement by die Braam Fischer- internasionale lughawe in Bloemfontein gebel. Chess van den Berg, ‘n personeellid by die departement, het haar tot haar skok ingelig dat sy die 129ste persoon is wat oor die einste “pakkie” bel. Volgens Van den Berg werk ‘n Indiër, ‘n Nigeriër en ‘n vrou van Afrika-afkoms saam om mense in veral die Wes-Kaap en Gauteng met dié storie te bedrieg.
Hy het Smalberger aangeraai om ‘n bekentenis by die polisie te gaan aflê vir ingeval bedrog met haar persoonlike inligting gepleeg is. Daarin bevestig Smalberger dat sy self in besit is van haar identiteitsdokument en paspoort en dat sy dit nie verloor het nie.
Sy het op 12 Februarie vanjaar vir haar nuwe digitale identiteitsdokument aansoek gedoen.
“Ek wil ander mense waarsku sodat hulle daarop bedag kan wees.”