Noordkaap Bulletin

Botswana-vrou met moordplanne vir Suid-Afrikaanse man tronk toe

,

‘n Vrou van Botswana is in die hof in Kimberley vir agt jaar tronk toe gestuur nadat sy planne gemaak het om haar Suid-Afrikaanse man te laat vermoor.

murder neon text on window with bars

“Daar is geen ander uitweg nie, hy moet dood.”

Só het Merriam Leshiba Tau (42), ‘n Botswana-burger wat haar vervreemde Suid-Afrikaanse man, Oscar Tau, wou laat vermoor, aan die polisie-agente in ‘n motor by die Shell Ultra City in Kimberley gesê wat die gesprek opgeneem het.

Streeklanddros Martha Pitse het Merriam op Vrydag 25 April tot agt jaar direkte gevangenisstraf in die streekhof in Kimberley gevonnis.

Sy is reeds drie jaar in aanhouding sedert haar inhegtenisneming op 15 Mei 2022, toe die gesprek plaasgevind het.

Die vonnis kom nadat sy deur die polisie in ‘n lokval betrap is.

Vroeër het Merriam ‘n verlangse familielid genader om Oscar te laat vermoor.

Die beskuldigde vroeër in die hof in Kimberley.
Merriam Tau in die hof in Kimberley. Foto: Charné Kemp

Die man, Neo Moabane, het koue voete gekry en die polisie oor die moordplan ingelig, waarna die polisie die lokval gestel het.

Merriam het Moabane en die vermeende sluipmoordenaar, wat eintlik die polisie-agent was, vele kere gebel en selfs gewys waar Oscar in Homevale gebly het.

Haar plan was dat die polisie-agente hom eers ontvoer en martel, sy bankkaart se geheime nommer kry, geld onttrek en hom dan vermoor.

Daarna, toe die agente wil weet of hulle hom nie net moet martel nie, het sy gesê daar is geen ander uitweg nie, hy moet dood.

‘Sy het ander keuses gehad’

Adv. Cornelia Deetlefs, aanklaer, het ter strafverswaring betoog dat Merriam gedurende die verhoor volgehou het sy is onskuldig en eers nadat die opname van haar gesprek met die polisieagent na ‘n binneverhoor as getuienis toegelaat is, sekere erkentenisse gemaak het.

Was dit nie vir Moabane en die polisie se betrokkenheid nie, was die pa van haar kinders dood.

Sy het egter ander keuses gehad, soos om van haar man te skei.

Oscar is ook ‘n slagoffer van geslagsgeweld en het uit vrees vir sy lewe uit Kimberley verhuis.

Boonop het hy vermoed dat Merriam hom voorheen wou vergiftig.

Hoewel Merriam ‘n moeder is en kinders hul ma benodig, het sy met haar moordplanne gekies om haar eie en die kinders se lewe omver te gooi.

Intussen is haar tienerseun en ouer dogter in goeie sorg in Botswana. Haar en Oscar se tweelingseuns bly by hul pa se familie.

Merriam kan nie mediese bewyse of bewyse van genetiese oordraagbaarheid lewer dat een van haar jonger seuns ook siek gaan word omdat hy soortgelyke simptome het as haar een seun wat aan leukemie oorlede is nie.

Beskuldigde ‘vasbeslote’ om moord te laat pleeg

In betoë ter strafversagting het adv. Marcus Nefaro namens die beskuldigde aangevoer dat sy sedertdien van Oscar geskei is.

Sy was ook ‘n slagoffer van geslagsgeweld.

Oscar het vele ander houvroue gehad en haar swak behandel. Haar kinders het haar nodig. Sy ly aan depressie en stres en weet dat haar een kind dodelik siek is.

In haar uitspraak het die landdros bevind dat die verswarende omstandighede swaarder weeg as die versagtende omstandighede.

Merriam was vasbeslote om Oscar te laat vermoor.

Toe die agent voorstel dat hy net gemartel word, het sy aangedring dat hy gedood moet word.

Merriam het vroeër by die prokureur-generaal in Botswana gewerk, maar bedank nadat haar ouer seun siek geword het.

Sy is in 2020 in Botswana en in 2021 in Suid-Afrika met Oscar getroud. Daarna het sy glo haar pensioen gebruik om hulle te onderhou. Sy het aangevoer nadat Oscar sy werk verloor het, het hy haar mishandel. Hy het intieme foto’s van sy meisies aan haar gestuur.

Een huweliksgenoot mag ‘n ander nie laat doodmaak as sake suur raak nie, het die landdros gesê.

Die beskuldigde het nadat die staat sy saak gesluit het, erkennings gemaak – “dalk uit berou”, het die landdros bevind.

You need to be Logged In to leave a comment.