Mense vra ons dikwels uit oor ons Franse ekspedisie. Ek begin gewoonlik ‘n storie met die massale verskeidenheid kase. Hiervan was die romerige, ryk brie my gunsteling, oorspronklik afkomstig van Brie. Die Franse is eenvoudig onversadigbaar versot op kaas. Toe president Charles de Gaulle beheer oor Frankryk oorneem, vra ‘n joernalis hom hoe hy hierdie onstuimige land sou regeeer. Blitssnel kap hy terug: “Hoe regeer jy ‘n land met 180 verskillende soorte kase?”
My skoonma, Sheelagh Moir (née Young) het in Cornwall, Engeland gewoon. Ek en Tisha het vir 10 jaar lank tussen Suid-Afrika en Frankryk gependel, waar ons ons ‘n murasie van 400 jaar oud in Le Gers gerestoureer het. Een pleknaam naby Perranarworthal in Cornwall wat uitskiet, dra die veelseggende naam Catch French! Ja, die Franse en die Engelse het mekaar vir eeue lank aan die strot beetgehad.
Ons het dikwels tussen Cornwall en die skilderagtige Frans-Atlantiese kus gereis. Oor die kanaal (la Manche) met sy imposante plekke soos Cherbourg, St Jean de Luz en Bordeaux, waar Napoleon se somerpaleis vandag nog staan. Moet egter nooit voor ‘n self-respekterende Fransman praat van die Engelse Kanaal nie. Nooit! Dis die Pas de Calais! Die taalverskil is ooglopend. Verder is die Franse Katoliek en die Engelse Protestants, al is die verskil tussen Katolieke gebruike en Hendrik die Agtste se selfgestigte Anglikaanse Kerk dunner as die wafelskyfie wat jy met cummunion kry. Stelselmatig val ‘n reeks ander diverse kultuurelemente jou op. In Frankryk ry jy aan die regterkant van die pad – glo involge die Code Napoleon wat aan die land ‘n ryke administratiewe erfenis nagelaat het wat vandag nog die basis van hul nasionale en plaaslike bestuur vorm. Die Franse maak hul huisdeure dikwels na bó oop; die Engelse druk die deurhandvatsel áf. ‘n Engelse werktuigkundige stik in sy tee as hy aan ‘n Citroën moet werk, want alles is verkeerdom en werk “anderster”. Die verskille slaan selfs deur in tennis. Wimbledon word op gras gespeel; Roland Garros op klei. Die cuisine is ‘n heel ander storie. In Frankryk eet jy eers al jou slaai op, maar in Brittanje eet jy jou slaai saam met jou hoofgereg. Monsieur et madame francaise eet hulle sop met skep-bewegings weg van hulle torso’s af. ‘n Gesofistikeerde Brit doen dit ook. Waar het hulle dit geleer? ‘n Deurtrapte Fanse paysan sal ‘n halwe koppie rouge in die oorblyfsels van sy sop gooi, dit behoorlik deurmeng met die laaste paar sopdruppels, die sopbord optel en sy soupe behaaglik uitslurp.
In Frankryk is dit etiket om jou hande bo-op te tafel te plaas; in Engeland onder die tafel, op jou skoot. Vanwaar kom hierdie verskille, wat aan weeersin grens, tussen die twee nasies vandaan?
Verskille tussen die Franse en Engelse
Wel, as jy Frans is, sal jy nooit vergeet dat die Engelse Jeanne D’Arc op die brandstapel verbrand het nie. As jy Engels is, sal jy onthou dat dit ‘n Fransman is wat die volksheld, Horatio Nelson se lewe kortgeknip het. Sy ma, Catherine Suckling, het die Franse tot haar laaste lewensuur met ‘n wrewel gehaat oor hulle haar seun doodgemaak het.
Maar miskien is die verskil in die gemoed die grootste: die stereotipe Engelsman is koel, selfs kil en hoogdrawend, en oënskynlik meer afsydig, amper katedraals, in die beste tradisie van die stiff upper lip. Daarteenoor bruis die Latynse DNS sterk in die Franse aar. Die Franse is Meditereens. Hulle is opgewonde, aweregs en onortodoks. Hulle hou van die antiheld, soos van die klein groepies dapper individue soos Asteriks en Obeliks wat dit gewaag het om teen die magtige Romeinse Ryk op te staan. Hulle hou van die klein hondjie wat die groot hond seer byt, dis onder meer hoekom hulle pro-Boer was in die Anglo-Boereoorlog. (Nog ‘n rede was hul instinktiewe wantroue van en afkeer in Engeland!) Hulle respekteer en herdenk hul meer onlangse helde soos die martelaar Jean Moulin van die Resistance. Hulle is warmbloedig, hoogs emosioneel en kan kort van draad wees. As jy nog nie in die Stade Francaise was en die passie waarmee 90 000 Franse La Marseillaise voor ‘n toets uitbasuin beleef het nie, weet jy nie wat patriotisme is nie. Een van my rugbyhelde, die ikoniese en bebaarde Sébastien Chabal, het in ‘n onderhoud met ‘n Engelse joernalis verseg om Engels te praat – nie dat hy die taal enigsins magtig was nie. “Ons is nou in my land, en hier praat ek Frans!” het hy die verslaggewer duidelik laat verstaan.
Ons het ‘n huis gehad om te restoureer en moes vinnig bouterme aanleer. Só leer ons die merkwaardige ooreenstemming tussen Afrikaanse bouterme en die Frans: Le plafon vir plafon, la fenêtre vir venster, le mur vir muur, les meubles vir meubels en la charnière vir skarnier, om ‘n paar te noem. En ‘n doopfont is un baptise le fond.
As daar een ander waarheid omtrent die Franse is, is dat hulle buitestaanders met agterdog bejeën. Nogtans het die Franse met wie ons te doen gekry het, ons gereeld gehelp en bygestaan – solank jy hulle taal praat, of minstens ‘n poging aanwend. Hulle praat nie van Wallis of “Wales” nie, maar van die “Pays de Galles” – letterlik land van die Galleërs. Dit dateer terug na 1405 die jaar van Wallis, toe daar ‘n formele verdrag tussen Frankryk en die Walliesers was. Vir ons was dit ‘n deurbraak toe ons buurman, George Victorraine ons gevra het om te help druiwe pluk vir sy wynmakery. Met sy byna onverstaanbare Pirineësiese patois het hy ons mooi laat verstaan daar sal die gebruiklike repas wees na ons klaar sy wingerde gepluk het. Dit was harde werk, maar ook belonend… “Allons manger!” – Kom ons gaan eet! Ons het ingeburger begin voel.
Dit het ons vyf jaar geneem om Franse burgerskap te verkry. Ons moes drie jaar se agtereenvolgende belastingvorms invul, van taxe d’habitation tot taxe fonciers. Hiervoor was ons oneindig dank verskuldig aan Monsieur Canonge van die Hôtel des Impôts op Mirande, waar ons elke Maandag na die mark gegaan het – nie net vir die ambiance nie, maar ook vir die beste grande créme in die wéreld. Ons moes ‘n reeks besoeke aan die Préfecture in Auch bring waar die wonderlik-hulpvaardige Madame Coumarie ons met die grootste geduld stap vir stap oor die een hekkie na die ander gehelp het. Van die basiese vrae wat ons moes antwoord, was onder meer: Wat doen julle in Frankryk? Het jy ‘n beroep, monsieur Massyn? Sal julle ‘n las op die Franse staat wees? (Dit tel in jou guns as jy reeds Franse rybewyse het en carte vitales het – wat jou allesomvattende mediese dekking gee deur Frankryk se formidabele gesondheidstelsel.) En die belangrikste: hoekom wil julle Franse burgers word? (My antwoord dat my Franse voorsaat in 1688 in Afrika voet aan wal gesit het, vind ooglopend byval.) Toe die coup de grace: monsieur Massyn, het jy enige militêre ondervinding? Ek kon daardie toets slaag, want ek het my soldyboek van die Suid-Afrikaanse Weermag, ‘n 1972-uitgawe, gehou. Mais bien sûr madame, je suis un membre ancien des marines de Afrique du Sud! verklaar ek met so ‘n tikseltjie trots. Dit was waar, want ek was inderdaad in 1972 op die SAS President Kruger, 10 jaar voor hy tragies gesink het. Dit het vir seker punte getel, want Frankryk het sy eie vegters vanoor die hele wêreld, die Vreemdelegioen, waar hulle jou naam verander om jou te verfrans! Maar my name was Frans genoeg. Uiteindelik besoek die Gendarmes ons by ons huis, Les Lézards, so 400 meter van die kerk op die bult in Monpardiac. Hulle daag daar op met loeiende sirenes en ‘n klein taakmag – om te bevestig die Massyns is wie en wat hulle op aanspraak maak. Hulle verifieer dat al ons bewerings oor ons herkoms en locus standi wel waar is. En toe uit die bloute, wil mon adjudant weet: “Vous connais vous La Marseillaise?” (Ken julle die Marseillaise, die roerende Franse volkslied, wat Wilgehof in Stellenbosch as sy eie aangeneem het, met Afrikaanse verwoording.) Teen daardie tyd het ons die bloeddorstige strofes en lirieke van hierdie aangrypende lied al bemeester. Nóg ‘n blokkie afgemerk. Toé die finale onderhoud, hierdie keer in die bureau de capitaine van die Gendermarie op Monpardiac: En hoekom, monsieur Massyn, het jy na Frankryk gekom? Ek was voorbereid vir hierdie vraag en bring terstond ‘n borsbeeld van Napoleon te voorskyn en plaas dit met oortuiging op sy lessenaar. “Omrede hierdie man, mon capitain!” Daar was ‘n oomblik se stilte, toe laat loop hy met: “Vous voulez faire les histoires de Napoleon, oui?” Toe het ek geweet ek het die finale toets geslaag.
Die Préfet, impeccable uitgedos in ‘n kraakvars uniform met twee rye blink knope wat my laat dink aan admiraal Bierman vir wie ons in in 1972 by Voortrekkerhoogte op parade gestaan het, lees jou naam uit en jy word vorentoe geroep na die verhoog. Die simpatieke Madame Coumarie was teenwoordig toe ons as volwaardige Franse burgers saam met ‘n handjievol uitverkorenes van oor die hele wêreld ingeburger is, kompleet met ‘n verwelkomingsertifikaat. Ons was bepaald trots. Madame Coumarie ook, op haar protégés.
Nog nooit het ons La Marseillaise met groter oorgawe gesing nie. Daardie inhuldigingseremonie het ‘n opvallende ommekeer in ons verhouding met die plaaslikes in Monpardiac bewerkstellig . Op daardie waterskeidingsoomblik was ons aanvaar as een van hulle. Ons vreemdelingskap was beëindig. Toe ons Frans word, volg die onvermydelike onthaal. En die burgemeester, Raymond Noilhan, ‘n kleinboer met ‘n bulnek en veteraan van die bloedige oorlog in Algerië, trek my (met ‘n glas armagnac in sy hand) eenkant en vra my (met ‘n glas floc in my hand) vertroulik: “Kan ek jou as ons volgende burgemeester benoem?” Bespeur ek ‘n sweempie van goedkeuring op die Préfet se gladgeskeerde visage? Ons boesemvriend Joe Lee se huis was regoor die église de Monpardiac, waar jy Moslem-grafte kon sien – ‘n aandenking uit Frankryk se koloniale verlede. Joe se Frans was beter as ons s’n, maar hy het steeds un anglais gebly. Ons was egter nou Frans, volwaardig Frans, en ons ontvang ons kosbare identifikasiekaarte en paspoorte binne dae na ons inhuldigingseremonie.
En nou nooi die burgemeester se seun my om te kom rugby kyk in sy chateau in Monpardiac. Moontlik nie soseer oor myself nie, maar ook omdat hulle die grootste respek het vir Les Springboks uit Suid-Afrika, waar hulle goed weet ek vandaan kom. Frankryk speel teen Engeland. Daar is wyn en die onvermydelike kaas in oorvloed. Daar is ook geen geen twyfel aan my onwrikbare lojaliteit aan Les Bleus nie. Toe onthul ek dat die equipe de France se handtekeninge in my besit is – ‘n aandenking van die 1995-Wêreldbekertoernooi (tournoi in Frans) toe Frankryk – so glo hulle tot vandag toe – beroof is van ‘n drie deur Abdelatif Benazzi in die laaste minuut van die modderstryd teen Suid-Afrika wat nie toegeken is nie.* In die middel van die ry handtekening pronk die naam van die pa van die huidige Franse losskakel, Romain Ntamack. Sy pa is Ėmile, een van die vriendelikste en mees affable individue wat nog ooit my paadjie gekruis het. My Franse vriende het my amper gesoen met hierdie aankondiging oor ‘n rugby-soevenir van hulle geliefde span…ek was nou een van hulle… En Frankryk het teen Les Rostbiffs geseëvier…