TygerBurger

Dief met ‘lang voete’ buit skoene by moskee in Kaap

‘n Man het doodluiters by die Aljaamia-Uthmania-moskee in Bonteheuwel ingestap en met hande vol skoene die hasepad gekies.

In 'n video wat op sosiale media gedeel word, kan gesien word hoe die boef by die moskee ingaan, rondkyk en verskeie pare skoene uit 'n skoenrak haal.

Die gemeenskap van Bonteheuwel is op soek na ‘n skoendief wat doodluiters by die Aljaamia-Uthmania-moskee in Bonteheuwel ingestap en met hande vol skoene die hasepad gekies het.

In ‘n video wat op sosiale media gedeel word, kan gesien word hoe die boef by die moskee ingaan, rondkyk en verskeie pare skoene uit ‘n skoenrak haal.

Hy sit dan op ‘n bankie en trek doodluiters ‘n paar skoene aan voordat hy loer-loer die moskee verlaat.

Raadslid gewalg

Angus McKenzie, ‘n plaaslike raadslid, wat ook die video op Facebook gedeel het, sê hy is gewalg deur die skelm se gedrag.

“Dit is uiters kommerwekkend en baie problematies dat iemand besluit dit is die regte ding om te doen om by ‘n heilige plek soos ‘n moskee in te breek. Ek deel die gevoel van die hele gemeenskap van absolute walging dat daar geen respek vir so ‘n heilige plek is nie.

“Ek wil hê hy moet gevang word en voor hy opgesluit word, moet hy eers vir die leiers van die moskee om verskoning vra,” sê McKenzie.

‘Lang voete’

TygerBurger het na die bestuur van die moskee uitgereik, maar het nog nie terugvoer ontvang nie.

Die Bishop Lavis-polisie, onder wie Bonteheuwel val, kon teen druktyd nie bevestig of iemand al in verband met die diefstal in hegtenis geneem is nie.

Kommentare op die video het gewissel tussen skok en verontwaardiging tot woede oor die algemene misdaadsituasie in Bonteheuwel.

Een kommentator het gesê die skoendief het “lang voete” eerder as lang vingers.

You need to be Logged In to leave a comment.