Drie mense het opslag gesterf in vermoedelik ‘n trompopbotsing op die R27 naby die Koeberg-kragstasie by Melkbosstrand. Die gru-botsing, tussen twee motors, het tussen 15:00 en 16:00 naby die Eskom-afdraai plaasgevind.
WeskusNuus het vertroulik verneem dat ‘n senior polisieoffisier onder die drie oorledenes is, maar daar word nog op amptelike bevestiging van die polisie gewag. ‘n Navraag is aan die provinsiale polisiekantoor gestuur en hul kommentaar sal bygevoeg word sodra dit ontvang word. Die identiteit van die ander twee oorledenes is nog onbekend.

Volgens ‘n polisiebeampte op die toneel is dit onbekend presies wat tot die botsing gelei het. Een van die voertuie, met na bewering twee insittendes binne, het aan die brand geslaan terwyl die bestuurder van die ander motor se liggaam buite in die pad gelê het. Dit is nog onseker of die bestuurder met die impak van die botsing uit die motor geslinger is.
Intussen krap polisielede wat tot laataand op die toneel was, steeds kop oor hoe die botsing gebeur het. Volgens ‘n betroubare bron is dit baie vreemd dat daar geen remmerke sigbaar was op die toneel nie. Daar was, volgens die bron, ook geen ooggetuies op die toneel wat die botsing sien gebeur het nie. Teen die tyd van die plasing was die pad steeds in beide rigtings gesluit en sou na verwagting eers ná 21:00 weer vir verkeer oopgestel word. Enigiemand met inligting oor die noodlottige botsing word gevra om die Melkbosstrand-polisiekantoor by 021 553 8224, of die Atlantis-polisiestasie by 021 571 8515 te skakel.
*Hierdie is ‘n ontwikkelende storie en sal aangepas word soos inligting bekend word.
You must be logged in to post a comment.