Paarl Post

EKSKULSIEF | Polisie ondervra ‘verskeie persone van belang’ oor verdwyning van Paarlse tiener (16)

Die Paarl-Oos-polisie het aan Paarl Post bevestig dat hy verskeie persone van belang ondervra rondom die verdwyning van die 16-jarige Channelle Plaatjies. Kapt. Basil Seekoei, woordvoerder by die Paarl-Oos-polisiekantoor, het […]

Forensiese patologiese dienste op die toneel langs die Allandale-gevangenis waar 'n lyk Maandag (2 Junie) in 'n vlak graf gevind is. Foto: Rasaad Adams
Forensiese patologiese dienste op die toneel langs die Allandale-gevangenis waar ‘n lyk Maandag (2 Junie) in ‘n vlak graf gevind is. Foto: Rasaad Adams

Die Paarl-Oos-polisie het aan Paarl Post bevestig dat hy verskeie persone van belang ondervra rondom die verdwyning van die 16-jarige Channelle Plaatjies.

Kapt. Basil Seekoei, woordvoerder by die Paarl-Oos-polisiekantoor, het Woensdag (4 Junie) aan die publikasie gesê op hierdie stadium van die ondersoek kan daar nie spesifiek vinger gewys word na enigeen wat moontlik betrokke kan wees by die verdwyning van die tienermeisie van Smartie Town nie.

“Ons volg alle leidrade en alle moontlike verdagtes asook inligting op, op die oomblik.”

Sy terugvoering volg nadat die lyk van ‘n vrou Maandag (2 Junie) in ‘n vlak graf in ‘n bebosde gebied agter die Allandale-gevangenis ontdek is.

Die gru-vonds is gemaak deur Channelle se familie en gemeenskapslede tydens ‘n soekgeselskap.

Matilda “Claney” Plaatjies, Channelle se ouer suster, het tydens ‘n vorige soektog ‘n versteurde stuk grond opgemerk wat haar verskriklik gepla het. Sy het Maandag weer dié gedeelte uitgewys en dis toe dat Samuel Jacobs, Channelle en Matilda se pa, besluit het om te grawe.

Die reuk van iets wat besig is om te ontbind het dadelik kop uitgesteek.

Dis toe dat Jacobs ‘n sandaal opgeskoffel het en die familie dit identifiseer het as dié van die vermiste tienermeisie.

Paarl Post se verslaggewers was teenwoordig terwyl Jacobs gegrawe het.

Die polisie het onmiddellik die gebied as ‘n misdaadtoneel afgebaken en verder gegrawe tot daar later ‘n onbekende vrou se lyk in die vlak graf ontdek is.

Familielede van Channelle Plaatjies (16) het histeries geraak toe 'n skoen wat vermoedelik aan die tiener behoort in die vlak graf ontdek is. Foto: Rasaad Adams
Familielede van Channelle Plaatjies (16) het histeries geraak toe ‘n skoen wat vermoedelik aan die tiener behoort in die vlak graf ontdek is. Foto: Rasaad Adams

‘n Moorddossier is geopen en DNS-toetsing word gedoen om vas te stel of dit moontlik Channelle is.

Hoewel leidrade daarop dui dat dit moontlik die 16-jarige is, kan dit nie bevestig word alvorens die DNS-toetsing afgehandel is.

Intussen het Channelle se familie steeds hoop dat sy ongedeerd terug huistoe sal keer.

Seekoei doen ‘n beroep op enigeen met waardevolle inligting, rondom die verdwyning van Channelle en die liggaam wat opgegrawe is, om navore te kom.

Die Paarl-Oos polisie kan gekontak word by 021 877 5900/906. Alternatief kan die inligting deurgegee word deur die Misdaad Stop nommer te kontak by 08600 10111 of gebruik te maak van die MySAPS-toepassing. Seekoei waarborg dat diegene wat inligting deurgee anoniem sal bly.


You need to be Logged In to leave a comment.