Noordkaap Bulletin

Familie se lyding verleng ná uitstel van moordverhoor

,

Die moordverhoor waarin ‘n buitelander aangekla word dat hy die dood van drie jong mense veroorsaak het, is uitgestel nadat hy sy regsverteenwoordiger afgedank het.

Die taxi wat omgeslaan het nadat 'n bakkie teen hoë spoed daarin vasgery het.

Die Zimbabwiër wat glo onwettig in die land is en verdink word dat hy drie jong mense se dood in twee ongelukke veroorsaak het, het sy regsverteenwoordiger afgedank op die dag dat die moordverhoor in die streekhof sou begin.

Hy het glo die twee ongelukke kort op mekaar in Junie verlede jaar in Kimberley veroorsaak.

Die hofsaal in Kimberley was op Donderdag 3 April vol PA-ondersteuners. Sommige wat saam met twee van die oorledenes in die minibussie was nadat hulle van ‘n politieke saamtrek teruggekeer en die ongeluk gebeur het.

Seun getref, jaag teen hoë spoed in taxi vas

Collin Nhlanga (39) was glo agter die stuur van die wit Nissan Navara-bakkie. Hy het glo op 30 Junie 2024 omstreeks 14:30 ‘n voetganger by die kruising van Barklyweg en Selekestraat in Homelite in Kimberley getref. Daarna het hy blykbaar weggejaag. Hy het glo teen ‘n hoë spoed agter in ‘n taxi vol PA-vrywilligers by ‘n rooi verkeerslig in Homestead in Barklyweg vasgery.

Videomateriaal toon hoe die minibustaxi met 14 passasiers daarbinne ná die botsing omslaan. Twee van die passasiers het, soos die voetganger, aan hul beserings beswyk.

Die aanklagte teen Nhlanga is aangepas. Hy word nou deur aanklagte in die gesig gestaar wat insluit een aanklag van strafbare manslag, twee van moord, dronkbestuur, natalige bestuur, versuim om by die ongelukstoneel stil te hou en dat hy onwettig in die land is.

Die voetganger was Omphile Jonas (16), ‘n leerling aan die Hoërskool Vuyolwethu. Hy was ‘n belowende krieketspeler wat vir Noord-Kaap Krieket gespeel het. Op Facebook is hy deur die krieketklub as ‘n baie talentvolle linkerarm-draaibouler beskryf.

Die skoolseun wat deur die beskuldigde doodgery is.
Omphile Jonas (16) Foto: Verskaf

Mi-Kayla Booysen (18) en Cavino Matthews (24) was passasiers in die minibustaxi. Hulle was saam met hul mede-partylede op pad terug van Kathu waar hulle by ‘n jeugfees was. Booysen is op 2 Julie aan haar beserings oorlede en Matthews op 19 Julie.

Kenneth Booysen, Mi-Kayla se pa, is ‘n ambulansman in diens van die staat wat noodbehandeling op sy eie dogter moes doen.

‘Dit maak nie sin nie’

“Dit is net God wat ons dra; my dogter sou volgende week 19 jaar oud word. ‘n Beweerde onwettige immigrant wat op ons belastingbetalers se geld leef en regshulp kry. Dit maak nie sin nie. Ons wil hê die saak moet eerder in die hooggeregshof sit,” sê Booysen.

Die saak is tot 16 April uitgestel sodat ‘n ander Regshulp Suid-Afrika verteenwoordiger vir Nhlanga aangestel kan word.

Twee van die oorledenes se ouers voor die hofgebou.
Kenneth Booysen (Mi-Kayla se pa) en Omphemetse Jonas (Omphile se ma) op Donderdag 3 April by die landdroshofgebou in Kimberley. Foto: Charné Kemp
Die ongelukstoneel nadat die bakkie die minibustaxi getref het. Foto: Videogreep
Categorised:,

You need to be Logged In to leave a comment.