Wonder jy ook soos ek waar vanjaar se Vryheidsdagboodskap gelewer sal word – dalk in die noorde van die land, in die Oos-Kaap of selfs iewers in die Wes-Kaap? Waar dit ook al gaan plaasvind, is egter van minder belang, want my groot wonder gaan wees wat ons agbare president met die land gaan deel. Dit voel al asof elke toespraak ‘n klomp netjiese woorde is wat al ná dertig jaar van demokrasie holrug gery is.
Elke jaar wanneer ons Vryheidsdag vier, voel dit vir my asof hierdie belangrike dag in ons land se geskiedenis sy trefkrag verloor het – dit voel vir my asof die konsep van vryheid in ons land so goedkoop en afgewater geword het.
Ek weet nie van jou nie, maar iewers langs die pad het ek my vertroue in ons politieke leiers verloor. As ek deesdae aan die politiek dink, dink ek onwillekeurig aan korrupsie, magsvergrype, skaamteloosheid, tenderbedrog, leuens, leë belof- tes en al die ander negatiewe woorde wat jy by hierdie lys kan voeg. Dis asof die negatiewe die positiewe dinge wat wel plaasvind, heeltemal oorskadu, want ons sogenaamde leiers kom met moord weg. En ons, Jan Alleman en kie, sit en hou die sirkus dop.
Intussen gaan dit rof hierbuite. Ek wil dit amper waag om te sê dat dit rowwer as ooit gaan. Om die pot aan die kook te hou, word by die dag ‘n groter uitdaging. Geld vir daai ekstras is al lankal verby, want daar is deesdae gate wat oral toegestop moet word. Deesdae moet ‘n mens maar biddend die supermark instap om die kosvoorraad vir die maand aan te vul, om nie van die petroluitgawes vir die maand te praat nie.
Die kinders se lysies van skoolbenodigd- hede hou ook nooit op nie en as ouer wil jy darem nie jou kind se skoolopvoeding ‘n knou toedien nie. Jy haal dus maar uit en wys.
En asof alles nie reeds onbekostigbaar geword het nie, help die jongste begroting wat deur ons agbare minister van finansies aangekondig is, glad nie die situasie nie. Die vooruitsig vir Jan Alleman lyk maar bra power. Met die karige verhogings in staatstoelae wonder ek hoe ‘n gesin van vyf of ses ‘n maand kan oorleef. Ek het al ‘n paar hartseer stories gehoor van hoe mense skarrel om aan die lewe te bly. Iets daarvan sal net nooit reg sit by my nie. Moes ons nie al ná 30 jaar van die demokrasie op ‘n beter plek gewees het nie?
Die ander nare werklikheid is die feit dat ons as landsburgers oor die jare op die harde manier geleer het dat ons politieke leiers nie omgee vir die lot van die armstes van die armes nie – die goeies natuurlik uitgesluit. Daar is (glo ek) darem die enkeles wat werklik omgee vir die behoeftes van ons armes, maar hulle kan jy op die vingers van jou een hand tel.
Ek het die ander dag met my busrit stad toe vinnig oor die etensuur ietsie gaan kry om te eet en te drink. Ek’s nog nie eens deur die helfte van my pakkie slaptjips nie toe ‘n jongman half smekend vra of ek nie ietsie vir hom sal oorhou nie. Ek kon sien hy was honger. Ek kon nie verder eet nie en het die res van my slaptjips en koeldrank vir hom gegee.
Ons almal is bekend met die geweldige uitdagings waarmee ons elke dag te kampe het. Die een groot vraag waarmee ek worstel, is hoe ons onsself deur hierdie harde tye hanteer. Hoe maak ons seker dat ons geestestoestand bestendig bly?
My brose gevolgtrekking is dat ons, hoe moeilik dit ook al kan wees, onsself eerste moet stel. Iewers sal ons met die min wat ons het of verdien, goeie basiese sommetjies moet maak om deur ‘n week of ‘n maand te kom. En in daardie beplanning moet ons seker maak dat daar ietsie oorbly om onsself mee te bederf. Gaan neem die kinders vir daai see-uitstappie. Gaan koop daai bak roomys en geniet dit as ‘n gesin. As jy kan, gaan bederf jouself met ‘n parcel vis en tjips. Gaan doen daai goeters waarvan jy hou. Moenie net die heeltyd in survival mode verkeer nie. Gaan draf of stap. Gaan kuier by goeie vriende wat waarde tot jou lewe voeg.
Maak jou hart skoon by hulle wat jy kan vertrou. En as jy klaar daai galbraak-sessie gehad het, dan stof jy jouself af en kap weer aan. Doen sommer ook daai simpel goedjies . . . lag totdat jou trane loop; neem jou man of jou kind en dans op jou gunsteling-nommertjie; maak ‘n pot kos of sop en gaan deel dit uit aan dié wat saam met jou swaarkry. Hoekom? Want jy sal sommer gou vergeet van al die struggles wat daagliks dreig om jou te oorweldig. Daai klomp slapgat- politieke leiers sal nie die voorreg hê om jou bloeddruk die hoogte in te laat skiet nie, want jy weet hoe om na jouself om te sien.
Ek wens en ek bid dat die winde van verandering spoedig hul opwagting in ons land sal maak, want so kan dit nie voortgaan nie. Ons mense ly. En dan het jy nog die vermetelheid om ‘n goedkoop T-hemp met jou politiek slagspreuk daarop na die skares te gooi. Siesa, skaam jou!
Intussen, kyk mooi na jouself, want niemand anders gaan dit namens jou doen nie.