Komani Karoo Express

Jansenville se burgemeesters-uitreikvergadering loop lelik skeef

Die burgemeesters-uitreikvergadering van die Dr Beyers Naudé Munisipaliteit, wat vir Dinsdag 13 Mei 2025 geskeduleer was om die geïntegreerde ontwikkelingsplan en voorgestelde begroting te bespreek en die gemeenskap se insette te verkry, het ontspoor toe die gemeenskap daarop aangedring het dat die dorp se waterkrisis aangespreek moet word.

Bennie Arends.
Bennie Arends. Credit: Verskaf

Die burgemeesters-uitreikvergadering van die Dr Beyers Naudé Munisipaliteit, wat vir Dinsdag 13 Mei 2025 geskeduleer was om die geïntegreerde ontwikkelingsplan en voorgestelde begroting te bespreek en die gemeenskap se insette te verkry, het ontspoor toe die gemeenskap daarop aangedring het dat die dorp se waterkrisis aangespreek moet word.

Volgens ‘n betroubare bron het die vergadering net na 16:00 begin, maar kort daarna het die gemeenskap die stadsaal se deure toegemaak en aangedui dat die burgemeester en administratiewe amptenare daar gehou sal word totdat die munisipale bestuurder en die direkteure kom om antwoorde oor die dorp se watersituasie te gee.

Die munisipaliteit se Direkteur van Infrastruktuurdienste, Bennie Arends, en die bestuurder van die munisipaliteit se waterdienste, Byron Koeberg, het toe uit Graaff-Reinet uit gery om gehoor aan die Jansenville gemeenskap se waterverwante klagtes te gaan gee.

Die Jansenville gemeenskap het hul ontevredenheid oor die beskikbaarheid en kwaliteit van water uitgespreek en wou weet of die waterkrisis aan ‘n probleem met die boorgate of infrastruktuur toegeskryf kan word.

Hulle het ook die munisipaliteit se bevoegdheid om water behoorlik te bestuur en die manier waarop beurtwater en die volmaak van watertenke geimplementeer word bevraagteken omdat die munisipaliteit glo nie hou by die geskeduleer tye daarvoor nie.

Die gemeenskap se slotsom was dat hulle glad nie meer beurtwater wil hê nie – hulle wil heel dag water hê en hulle wil water in hulle krane hê.

Benewens die bogenoemde wou die Jansenville gemeenskap het ook vrae gevra oor die R64-miljoen wat volgens hulle vir die opgradering van Jansenville se watervoorsieningstelsels geoormerk is. Hulle wou weet hoe die fondse aangewend is, aangesien die watersituasie volgens hulle beter was vóór die aanvang van hierdie waterprojek.

Die Komani-Karoo Express het intussen bevestig dat hierdie spesifieke waterprojek gedurende 2021 van stapel gestuur is.

By aanvang van die projek was daar R55-miljoen beskikbaar maar die grootste gedeelte daarvan was vir die opgradering van Klipplaat se watervoorsieningstelsels.

Daar is wel boorgate in die Jansenville omgewing gesink maar die sterkste boorgat het kruitwater gelewer en kon dus nie deelgemaak word van Jansenville se watervoorsieningstelsel nie.

Ten minste drie van hierdie boorgate is egter volledig toegerus en in werking.

Volgens Raadslid Mandy Deyzel sukkel Jansenville nou al vir 2 jaar lank met water en het sy die probleem al telkemale onder die munisipaliteit se aandag gebring maar sonder enige sukses.

Die munisipale bestuurder het wel onderneem om Jansenville te besoek om al die boorgate te inspekteer maar dit het ook nog nie gebeur nie.  

Sy noem dat sy bykans op ‘n maandelikse basis met die munisipaliteit korrespondeer oor die watersituasie maar dat daar net eenvoudig geen positiewe reaksie is nie.

“Dit is al vir my gesê dat ek nie wil verstaan nie, maar hoe moet ek verstaan as daar werklik ‘n probleem is? Wat hulle nie verstaan nie is dat die raadslede die openbare verteenwoordigers van die munisipaliteit is en as die munisipale administrasie nie hulle werk behoorlik doen nie moet ons die houe vat.”

Sy beklemtoon dat sy nie olie op die vuur wil gooi nie maar dat die watersituasie werklik baie sleg is. “’n Mens moet jouself in die gemeenskap se skoene plaas. Dit wat nou gebeur het was onafwendbaar,” sê sy.

Na afloop van die vergadering het die gemeenskap die munisipaliteit 48 uur gegee om ‘n oplossing vir Jansenville se waterprobleme te vind. Hulle het dit duidelik gemaak dat hulle antwoorde én water wil hê voor 10:00 am vanoggend – Donderdag 15 Mei 2025 – andersins sal hulle die munisipale kantore heeltemal sluit.

Die Komani-Karoo Express het nog geen opdatering oor die situasie ontvang nie, maar ‘n opvolgberig sal geplaas word sodra meer inligting beskikbaar is.

You need to be Logged In to leave a comment.