‘n Versamel-stokperdjie wat De Wet Lategan (21) van Kimberley op ‘n jong ouderdom beetgepak het, het in enkele jare tot ‘n motorhuis vol gedenkwaardighede gegroei.
Lategan het aanvanklik plakkers versamel. Dit het na boeke oor haaie oorgeslaan, en pillehouers omdat hy ‘n dokter wou word. Toe, danksy ‘n skenking van sy oupagrootjie se Tweede Wêreldoorlog- (WOII) medaljes vir diens wat in Italië verrig is, het dit in ‘n volskaalse versameling van militêre gedenkwaardighede verander.
Hy het ‘n motorhuis van sy pa oorgeneem, en kyk reeds langoog na ander vertrekke vir ‘n versameling wat in net vyf jaar opgebou is. Dit beslaan allerlei van plaaslike en oorsese oorloë sedert die Anglo Boereoorlog (ABO), en bevat uniforms, vlae, pette, stewels, koerante, kentekens, medaljes, prente, foto’s en meer.
‘Wrede oorlogfilm laat vonk ontstaan’
“Die vonk het in 2016 ontstaan met Fury, ‘n wrede oorlogfilm oor ‘n Amerikaanse gepantserde eenheid wat die Nazi’s in die WOII in tenks beveg. Die oorlogstonele was verstommend. Ek het onthou van ‘n boek wat ek hieroor het en dit weer gelees.
“In die geskiedenisklas op laerskool het ek en my Afrikaans-onderwyseres land en sand oor Adolf Hitler gesels; ek was bekend vir my fassinering met die WOII.”
Die passie het bly sluimer.

“Op ‘n dag het my ouma haar pa se oorlogsmedalje en ander artikels wat hy in die WOII gebruik het, vir my gegee. Dit is in my kamer uitgestal. My pa het vir my ‘n gasmasker uit die WOII gekoop, wat in ‘n geseëlde glaskas uitgestal is.
“Naby ons huis was ‘n winkel, Van Toeka tot Nou, waar ek ‘n gereelde klant was, totdat ek al die kentekens gekoop het wat ek wou hê. Ek het op die internet begin navors en gedenkwaardighede gekoop.
“Later het die stof in my kamer te veel geword. Ek het dit op my ma se eetkamertafel uitgepak, wat haar nie beïndruk het nie. In 2022 het my pa sy een motorhuis aan my afgestaan en gehelp om dit te verf en rakke vir die moewiese versameling te maak.”
De Wet Lategan
Een van sy gunsteling-spesialiswinkels is in Mosselbaai.
“As ek iets op die internet sien wat te duur is, soek ek totdat ek dit goedkoper kry. Ek het al my rieme styfgeloop met nagemaakte artikels. Na dese kan ek makliker sien wanneer iets nagemaak is.”
Lategan het heelwat medaljes van latere oorloë. ABO-medaljes is duur, veral wat aan oudstryders toegeken is. Hy het egter skenkings van koeëldoppies en fragmente wat van ABO-slagvelde kom, van skenkers ontvang.
Ruil gedenkwaardighede uit, ontvang skenkings
Janré du Plessis, ook ‘n oudleerling van die Hoërskool Diamantveld, en ‘n versamelaar en handelaar van gedenkwaardighede, het Lategan inspireer en artikels aan hom geskenk.
Lategan meen hy en Du Plessis is twee van min jong manne wat gedenkwaardighede versamel. Een van Lategan se medeversamelaars is Leon Victor, oudskoolhoof van Diamantveld.
“Ons ruil gereeld kentekens, geldnote of munte en klere uit. Daarbenewens kry ons skenkings van familie en vriende.
“Een van die kosbaarste skenkings is van ‘n lugmagoorlogsveteraan wat onlangs afgetree het. Ek het met hom op Facebook begin kommunikeer. Op ‘n dag wou hy my adres hê om ‘n boks vol goed te stuur. Ek het 50 kg se artikels van hom per pos ontvang. Hy het nog twee keer iets gestuur. Ek het hom verlede jaar ontmoet toe hy deur Kimberley gereis het. Dit was ongelooflik.”
Lategan versamel ook gedenkwaardighede wat met die Eerste Wêreldoorlog te make het, asook die tyd tussen die twee wêreldoorloë, die Koue Oorlog en die Suid-Afrikaanse Grensoorlog. Die lande waarvan hy die meeste het, is Suid-Afrika, Engeland, Duitsland, Rusland, Frankryk en Amerika. Sy hooftema is moderne militêre memorabilia.
Geskiedenis sy hoofvak
Sy besoeke aan die Suid-Afrikaanse Museum vir Militêre Geskiedenis in Saxonworld en Suid-Afrikaanse Pantsermuseum by Tempe in Bloemfontein was aangrypend. Gelukkig het Kimberley talle museums en biblioteke waar hy navorsing kan doen. Hy is lid van Facebook spesialisgroepe, en die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging en die Suid-Afrikaanse Museumsvereniging.
Intussen studeer hy ywerig om sy BA-graad in onderwys aan die Afrikaanse Protestante Akademie te voltooi en ‘n nagraadse kwalifikasie te verwerf.
Geskiedenis is sy hoofvak waarin hy onderskeidings verwerf, en hy hoop om eersdaags as assistentonderwyser by sy alma mater in te val.
You must be logged in to post a comment.