Lewenslange tronkstraf staar dalk Kelly Smith, Boeta Appolis en Steveno van Rhyn in die gesig nadat hulle op Vrydag 2 Mei skuldig bevind is op aanklagte van ontvoering en mensehandel.
Joshlin Smith het as sesjarige op Maandag 19 Februarie spoorloos uit die Middelpos- informele nedersetting in Saldanha verdwyn. Sy word steeds vermis.

Regter Nathan Erasmus het sy uitspraak voor ‘n voller saal as gewoonlik gelewer.
Die gehoor het hulle die afgelope nege weke volgens Erasmus deurentyd met die aanhoor van die hofsaak in die Veeldoelige Sentrum in White City, Saldanha, onberispelik gedra. Hulle kon hulself egter nie help om spontaan te juig en hande te klap toe die beskuldigdes skuldig bevind word nie.
Erasmus het in sy uitspraak verduidelik dat hoewel die staat se saak hoofsaaklik op omstandigheidsgetuienis berus het, adv. Zelda Swanepoel en adv. Aradhana Heeramun daarin geslaag het om die beskuldigdes bo alle twyfel as skuldig te bewys.
Hy het verwys daarna dat die magdom omstandigheidsgetuienis dalk individueel nie na veel lyk nie, dit soos die teëls in ‘n mosaïk of die stukkies van ‘n legkaart inmekaarval. “Individueel lyk dit dalk nie betekenisvol nie, want wanneer ‘n mens getuienis evalueer, word gekyk na die integriteit daarvan.”
Hy het Lourentia (Renz) Lombaard se getuienis as betroubaar bestempel omdat dit deur soveel ander getuies beaam is.
“Die manier waarop dit gedoen moet word, is om te sien of daar onafhanklike bevestiging is vir aspekte in haar getuienis sodat ‘n waarborg van betroubaarheid gevind kan word.”
Die feit dat die beskuldigdes besluit het om nie te getuig nie, het volgens Erasmus Lombaard se getuienis onbetwis gelaat. Hy het gesê die hof kan sy eie afleiding maak oor waarom hulle gekies het om nie te getuig nie. “Daar kom ‘n tyd wanneer die bewyse ‘n antwoord vra.”
Veral die getuienis van Stephen Coetzee, ‘n algemene werker van Diazville, was deurslaggewend. Erasmus het sy getuienis aanvaar dat Kelly in Augustus 2022 aan hom gesê het Middelpos en Diazville gaan vroeg in die volgende jaar “soos ‘n rolprent lyk” soos wat mense na haar kinders of een van haar kinders gaan soek, wat sy ver weg gaan stuur. Coetzee het ‘n gunstige indruk as getuie op Erasmus gemaak. “Hy het geen motief gehad om homself in hierdie situasie te plaas nie en niks gehad om daaruit te baat nie. “
Appolis en Van Rhyn se bekentenisse wat hulle op Dinsdag 5 Maart 2024 afgelê het en wat op video vasgelê is, staaf ook Lombaard se getuienis oor onder meer die bespreking van die “Die Plan” – die oorhandiging en betaling vir Joshlin.

Erasmus het sy eie tydlyn al in 2018 begin, met die Andrews-gesin wat toe al Joshlin wou aanneem, maar haar ouers het geweier. Hy het verwys daarna dat Smith op 18 Februarie 2024 gesê het die rede waarom sy Joshlin verkoop het is, omdat sy “moeg” is vir Natasha Andrews wat nie ophou vra of sy “die kind” kan aanneem nie. Joshlin het skoolvakansies en naweke by die Andrews-gesin deurgebring.
Erasmus het gesê die beskuldigdes se verskillende verklarings en getuienis gedurende die binneverhoor was inkonsekwent en hul tydlyn maak glad nie sin nie.
Hy het veral vir Smith oor die kole gehaal omdat sy eerder die Maandagaand van die 19de Februarie haar foon wou laai as om na haar kind te soek. Hy het ook verwys na Smith wat vir verskeie mense gesê het “die kind” het haar beroemd gemaak, emosieloos voorgekom het, nie gehelp het om Joshlin te soek nie en “soos ‘n baba geslaap het” die dag ná Joshlin weggeraak het. Hy het gesê Smith se gedrag van 19 Februarie 2024, die dag wat sy Joshlin as vermis by die Saldanha-polisiestasie gaan aangee het, dui daarop dat sy geen werklike belangstelling getoon het nie. “Dit is nie die gedrag van iemand wat nie weet waar haar kind is nie.”
Hy het dit aan Smith gestel dat sy geweet het wat met Joshlin gebeur het en dat sy, Appolis en Van Rhyn Joshlin se vryheid van beweging en vryheid uitgeruil het vir geld. “Waarom ‘n kind as ‘n kommoditeit behandel?”

Volgens Erasmus het die beskuldigdes, veral Smith en Appolis, hul mag as Joshlin se versorgers misbruik.
Die hof gaan op Vrydag 9 Mei in die Kaapse Hooggeregshof in Kaapstad die nodige prosedures afhandel om op ‘n datum vir vonnisoplegging te besluit. Dit sal in Saldanha geskied.
Erasmus sal dan ook uitsluitsel gee of Lombaard, wat oorspronklik saam met Smith, Appolis en Van Rhyn aangekla is, vrygespreek gaan word, al dan nie.
Die staat gaan die voorgeskrewe vonnis van lewenslange tronkstraf bepleit.
Smith se ma, Amanda Daniel-Smith, het net ná die uitspraak gesê sy glo haar dogter weet waar Joshlin is. “My kleindogter is steeds weg.”
KYK HIER NA DIE VIDEO
You must be logged in to post a comment.