Kapers het vanoggend (Vrydag 9 Mei) toegeslaan op ‘n bakkie in Wesbank, Kaapstad, wat leerders na skole in die omgewing vervoer.
Vier leerders was nog agterin die bakkie nadat die voertuig in Waterblomstraat gekaap is, maar hulle is kort daarna uit die voertuig geboender.
Edith van Wyk, wie se suster die eienaar van die bakkie is en die skoolvervoer bedryf, het aan TygerBurger vertel hulle sukkel om vandag reeds traumaberading gereël te kry vir die kinders.
Van Wyk het gesê die voorval het omstreeks 07:50 gebeur.
Haar suster ry gewoonlik self, maar ‘n vrou wat haar gewoonlik vergesel, het Vrydagoggend bestuur. Haar suster se dogter, ‘n kollege-student, het langsaan in die passasiersitplek gesit.
“Sy (die bestuurder) sê hulle het in Waterblomstraat afgekom nadat hulle reeds Rainbow- en Hoofweg (laerskole) se kinders afgelaai het. Toe hulle in Waterblomstraat afkom naby die Apostoliese kerk, toe staan daar ‘n Polo Vivo. Hulle het verbygery en toe kom die Polo agter hulle aan, maar teen ‘n spoed. Sy het toe ook maar vetgegee. Toe hulle by die spoedbult kom daar in Waterblomstraat, toe is die Polo verby haar en voor haar in.”
Van Wyk vertel ‘n gewapende man het toe uitgespring. Die bestuurder het ‘n hou teen die kop gekry met die vuurwapen en die loop is teen haar suster se dogter se kop gedruk.
Geen berading
Die kaper het ‘n entjie gery voordat hy die vier leerders wat nog agterin die bakkie was, uitgeboender het.
Van Wyk sê die kinders kon net twee mans sien – die bestuurder van die Polo Vivo wat in die voertuig gesit het en die gewapende kaper wat uitgespring het. “Die ruite was getint, so hulle weet nie of daar nog (mense in die Polo) was nie.”
Die kaping is by die Mfuleni-polisie aangemeld, maar Van Wyk vertel daar is geen traumakamer nie. “Ons is toe Delft-polisie toe, maar die traumakamer daar is toe. Hulle het Hope House (vrywillige beradingsdiens) gebel, maar hulle kon eers vir volgende week ‘n afspraak maak – maar hulle het dit mos nóú nodig.”
Sy sê die kinders – drie laerskoolleerders en een hoërskoolleerder – en veral ook haar suster se dogter (21) wat met die vuurwapen gedreig is asook die bestuurder wat ‘n hou teen die kop gekry het, is almal erg getraumatiseer deur die voorval.
Die kapers het weggekom met die wit Nissan NP200-bakkie met ‘n kappie. Die registrasienommer is CF290 839.

You must be logged in to post a comment.