Eikestadnuus

Kokkedoor: Son & See – nuwe seisoen met unieke inskrywings

,

Familielede wat bobaas huiskokke kan nou inskryf vir die jongste reeks van die gewilde koswerklikheidsreeks Kokkedoor.


Vir die 10de seisoen van kykNET se gewilde koswerklikheidsreeks, Kokkedoor, trek die program nie net ‘n ander voorskoot aan nie, maar kry dit ook twee nuwe beoordelaars.

Kokkedoor: Son & See is die vyfde gedaante van die Kokkedoor-familie, waarvan die huidige reeks, Kokkedoor: Vuur & Vlam, tans op kykNET uitgesaai word. Buiten Kokkedoor, wat in 2012 vir die eerste keer voorgesit is, en Kokkedoor: Vuur & Vlam, was daar ook Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie.

In sy volgende gedaante gaan die reeks as Kokkedoor: Son & See bekend staan, terwyl die koskenners Herman Lensing en Yolani Abrahams gaan besluit watter deelnemers koning kraai.

kykNET is op soek na deelnemers vir die reeks, wat in November en Desember ‘n hoofgereg op die kanaal se spyskaart gaan wees.

Volgens Kokkedoor se publisiteits- bestuurder, Wilmer Müller, is daar ‘n paar unieke bestanddele vir Kokkedoor. Son & See onderskei dit van die vorige reekse. “Mense moet as ‘n span van twee gesins- of familielede inskryf en daar moet boonop ‘n generasiegaping van ten minste 20 jaar tussen die twee spanlede wees,” sê hy.

“Dit kan byvoorbeeld ‘n ouma en ‘n kleindogter, ‘n ma en seun, skoonsusters of niggies en neefs wees – solank daar ‘n tipe familieverband is en die jongste spanlid ten minste 18 jaar oud is. Nog ‘n verskil is dat vir Kokkedoor: Son & See net na huiskokke gesoek word en dat daar nie deelnemers met ‘n kwalifikasie as professionele sjef gaan wees nie.”

Müller sê dié besluit is geneem sodat die kollig op die nostalgiese rol val wat kosmaak in ‘n familieverband speel en die manier waarop dit soos ‘n goue draad tussen die verskillende geslagte loop.

Die nuwe aanbieders het geen bekendstelling nodig nie, en beide het al diep spore in die Suid-Afrikaanse koslandskap getrap. Lensing en Abrahams spog albei met sjefskwalifikasies en het ook beide reeds in talle kook- en leefstylprogramme op die kassie hul verskyning gemaak.

Aansoekvorms is aanlyn by kyknet.tv beskikbaar, of stuur e-pos na navrae@kokkedoor.tv vir meer inligting.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is Woensdag 30 April.

Die jongste lid van ‘n span moet ten minste 18 jaar oud wees en die generasie- en ouderdomsverskil tussen die spanlede moet ten minste 20 jaar wees. Die spanlede móét ‘n familieverwantskap hê.

• Oudisies sal tussen Maandag 5 en Vrydag 9 Mei in Kaapstad gehou word, en verfilming van die reeks duur van Vrydag 20 Junie tot Donderdag 3 Julie in Struisbaai.

Categorised:,

You need to be Logged In to leave a comment.