Opgewondenheid was die oorheersende gevoel toe die Suid-Afrikaans gebore Ebrencia Fourie op 24 Maart haar reis vanaf Londen na Suid-Afrika aangepak het.
Sy en haar 17-jarige dogter Belle was op pad na Ebrencia se suster se troue. Hulle het uitgesien na kuier met die familie, feesvieringe en opdiep van herinneringe in Upington, waar Ebrencia grootgeword het.
Ebrencia is ‘n 48-jarige enkelouer en teatersuster by ‘n hospitaal in Noord-Engeland, en woon in die dorp Morpeth.

Kort ná die vliegtuig opgestyg het, het Ebrencia siekerig begin voel. Sy het dit as ‘n gewone verkoue afgemaak.
Kort nadat hulle in Suid-Afrika geland het, het sy ‘n dokter besoek omdat haar simptome vererger het. Sy is met sinusitis diagnoseer. Haar toestand het egter versleg en sy kon nie die troue geniet waarna sy so uitgesien het nie.
Haar gevoel, verskerp deur haar mediese agtergrond, het vir haar gesê iets is ernstig fout. Sy is in ‘n hospitaal opgeneem.
Op 13 April het haar gesondheid agteruitgegaan: Sy het gevoel in haar bene verloor en gesigverlamming opgedoen. Ebrencia is per ambulans na die Mediclinic Gariep in Kimberley gehaas.
Dringende sorg in waakeenheid lewensnoodsaaklik
In dié hospitaal is sy met die Guillain-Barré-sindroom diagnoseer. Dit is ‘n seldsame neurologiese siekte wat 20 jaar gelede ‘n suster van haar se lewe geëis het.
Weens die invloed van die siekte is Ebrencia gedeeltelik verlam gelaat, en kon sy nie sonder hulp asemhaal nie.
Sy moes dringend na die waakeenheid (ICU) oorgeplaas word.
Maar ‘n volgende krisis het ontstaan: Haar internasionale mediese versekering, waaraan sy vir meer as 18 jaar betaal het en wat miljoene se dekking belowe het, het geweier om goedkeuring te gee vir haar hospitaalversorging in die ICU.
Dié versekeraar het ‘n deeglike hersiening van haar mediese geskiedenis geëis voordat goedkeuring verleen sou word. Dit sou tyd neem – tyd wat sy nie gehad het nie.
Vir haar ouers was die gebeure traumaties, juis omdat hulle reeds ‘n kind weens dié siekte aan die dood moes afstaan. Omdat Ebrencia se lewe in die weegskaal was, het vriende en familie ‘n BackaBuddy-geldinsamelingsveldtog begin wat haar 48 lewensbelangrike uur in ICU gekoop het.
Hospitaaladministrateurs het intussen onverpoos met haar mediese versekeraar in Engeland kommunikeer en die lewe-of-dood-situasie beklemtoon.
Dokters en verpleegsters het onvermoeid geveg om Ebrencia aan die lewe te hou. Dag vir dag is haar verblyf gefinansier deur goedgunstige vreemdelinge en die vasberadenheid van diegene wat haar liefhet.

“Dit was meer as ‘n mediese krisis – dit was ‘n stryd om tyd, waardigheid en die reg op sorg,” sê ‘n familiewoordvoerder.
“Die vriendelikheid van vreemdelinge en onwrikbare toewyding van hospitaalpersoneel het haar lewe gered.”
Danksy kundige mediese sorg, ondersteuning van oor die wêreld heen en die uiteindelike samewerking van haar versekeringsverskaffer, het Ebrencia begin herstel.
Deur dit alles het een gedagte haar krag gegee: Haar dogter Belle het haar nodig gehad. Sy kon nie opgee nie.
Sy is op 12 Mei ontslaan en het teruggevlieg Londen toe, met Belle en ‘n professionele verpleegster aan haar sy. Op dié stadium kon sy met hulp loop, maar het steeds gedeeltelike gesigsverlamming gehad.
‘n Lang proses van herstel en rehabilitasie lê voor, maar Ebrencia is dankbaar.
Dank aan hospitaalspan uitgespreek
Denise Coetzee, kliënt-ervaringbestuurder by Mediclinic Gariep, deel wat Ebrencia aan die hospitaalspan geskryf het: “Aan die kliniese personeel, jul kundigheid, professionaliteit en onwrikbare toewyding tot uitnemendheid het my die selfvertroue en krag gegee wat ek nodig gehad het om elke dag aan te pak. Die behandeling van hoogstaande gehalte en noukeurige monitering het my letterlik uit van my donkerste oomblikke teruggebring.
“Aan die administratiewe span, dankie dat julle onvermoeid agter die skerms gewerk het om my versorging te koördineer, foutlose kommunikasie te verseker en met my vriende en ondersteuningsnetwerk in Engeland te skakel. Jul werk het verseker dat alles glad verloop. Ek kon ten volle op my herstel fokus, sonder bykomende stres.
“Aan die huishoudingpersoneel, jul vriendelikheid, hartlikheid en aandag aan die klein dingetjies het ‘n wêreld se verskil gemaak. Die moeite wat julle gedoen het om vir my ‘n skoon en gemaklike omgewing te skep, het tot die behoud van my waardigheid bygedra. Dit het ‘n gevoel van normaliteit tydens ‘n ongelooflike uitdagende tyd gebring.

“Elkeen van julle in jul onderskeie rolle het nie net professionaliteit getoon nie, maar deernis. Dit is iets wat nie geleer kan word nie, maar wat diep beleef word.
“Ek sal dit altyd met my saamdra.”
Ebrencia beskryf die ervaring in geheel as “genade onbeskryflik groot”.
– Verwerk, Helena Barnard
You must be logged in to post a comment.