BloemNuus

Marie se vlakvarkpastei tuis in jou kombuis

,

Maak jou eie vlakvarkpastei soos Marie Lombard van De Oude Kraal. Onthou die jaarlikse WildsKOSfees vind 7 Junie plaas.

Marie se vlakvarkpastei

Daar is min sjefs wat so goed is daarmee om plaaslike bestanddele bymekaar te sit en ‘n nuwe smaaksensasie op te tower soos Marie Lombard van De Oude Kraal nie.

Môre is dit weer tyd vir die gewilde WildsKOSfees waar kosfundi ‘n rukkie kan ophou dink oor wat op die spyskaart is en net smul aan al die heerlikhede wat daar voorgesit word.

Net om die lekkerte ‘n rukkie langer te laat duur, het Marie hierdie resep verskaf vir haar weergawe van ‘n vlakvarkpastei. So probeer dit gerus self by die huis – as jy iewers vlakvark by die jagters kan kry.

Vlakvarkpastei

Bestanddele:

Vir die vulsel:

  • 1 ui, fyngekap
  • ½ koppie gerasperde wortel
  • ½ koppie fyngekapte seldery
  • 1 kg gaar, fyngekapte vlakvarkvleis
  • 1 groen appel, gerasper
  • 1 piesang, in skyfies gesny en in suurlemoensap gedoop
  • 125 ml rosyntjies
  • 10 ml sout
  • 100 ml room
  • 100 ml melk
  • 1 skaapgeurmiddels-blokkie (bv. Knorr of Ina Paarman)
  • Ina Paarman se masala na smaak
  • Water (genoeg om die mengsel klam te hou, sowat ‘n half tot 1 koppie)

Vir afronding:

  • 3 snye witbrood, sonder korsies en in krummels gemaak
  • 1 eier, geklits
  • Pofdeeg (blaardeeg)
  • Eiergeel om op die kors te smeer

Metode:

  1. Braai die ui, wortel en seldery saam tot sag.
  2. Voeg die gaar vlakvarkvleis, gerasperde appel, piesangskyfies, rosyntjies, sout, room, melk, geurmiddels-blokkie, masala en ’n bietjie water by.
  3. Laat die mengsel stadig prut vir ongeveer 2 ure tot geurige, sagte vulsel. Roer af en toe en voeg water by indien nodig om aanbranding te voorkom.
  4. Laat die mengsel heeltemal afkoel.
  5. Voeg die broodkrummels by en roer die geklitste eier in om die vulsel te bind.

Om die pastei te maak:

  1. Rol die pofdeeg uit en sny in gewenste groottes.
  2. Skep die vleisvulsel in die middel van elke stuk deeg. Vou toe en druk die rande stewig vas.
  3. Smeer die bokant van die pasteie met eiergeel.
  4. Bak by 180 °C tot goudbruin en gaar – sowat 25–35 minute, afhangend van die grootte van die pasteie.

Kaarties vir De Oude Kraal se wildskosfees is hier beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.