Vista

Matjhabeng keur R4,68 miljard-begroting goed ondanks administrasie

,

Matjhabeng se skuldlas keer nie goedkeuring van onrealistiese begroting nie

Manie Pretorious, VF Plus raadslid

Slegs oomblikke nadat die Matjhabeng-munisipaliteit onder administrasie geplaas is ingevolge Artikel 139(5)(a) en (c) van die Grondwet, is ‘n omstrede begroting van R4,68 miljard vir die 2025/2026-boekjaar Donderdagaand deur die munisipale raad goedgekeur.

Die VF Plus was die enigste party wat teen die begroting gestem het. Emosies het tydens die raadsvergadering hoog geloop toe die burgemeester, Thanduxolo Khalipha, die VF Plus uitgesonder het omdat hulle glo nooit ‘n begroting ondersteun nie.

“Die feit dat die munisipaliteit nou onder administrasie geplaas is, bevestig presies waarom die VF Plus nie onbefonde of onrealistiese begrotings kan ondersteun nie. Ons verwelkom die provinsiale regering se ingryping,” het Manie Pretorius, VF Plus-raadslid in Matjhabeng, gesê.

Tariefverhogings

Die nuwe begroting behels die volgende tariefverhogings:

  • Water: 9.5%
  • Elektrisiteit: 12.7%
  • Grondbelasting: 4%
  • Vullisverwydering: 6%
  • Riooldienste: 6%
  • Ander munisipale dienste: 6%

Finansiële krisis

Pretorius beskryf die begroting as “gebaseer op aannames en dus nie realisties nie.” Hy wys daarop dat die goedkeuring daarvan plaasvind te midde van ernstige diensleweringsprobleme.

Volgens hom skuld die munisipaliteit tans:

  • Vaal Sentraal Water: R7,7 miljard
  • Eskom: R6,4 miljard

Die munisipaliteit se invorderingskoers is gemiddeld slegs 37%. Matjhabeng bestaan uit 36 wyke, waarvan 12 ‘n maandelikse finansiële bydrae van 1% of minder maak. In totaal lewer 50% van die wyke 10% of minder van die totale inkomste.

Pretorius wys ook daarop dat munisipale rekeninge gereeld op geskatte bedrae gebaseer is, eerder as werklike verbruik.

Wanadministrasie en misbruik

Verder beweer Pretorius dat die armlastige-kwytskeldingsbeleid uitgebuit word deur persone wat valslik armlastige inwoners se adresse gebruik om van betalings vrygestel te word.

“Tot ons skok was die burgemeester vir 180 dae van die jaar afwesig, sonder enige gevolge, en steeds ten volle vergoed,” sê hy.

Die VF Plus dring aan op dringende ingryping en deeglike ondersoek na die finansiële bestuur van die munisipaliteit.

You need to be Logged In to leave a comment.