Ons jeugvriend, ook lankal saliger, was ’n boorling van Garies met ’n baie suksesvolle regsloopbaan. Op ’n spesifieke dag het hy op sy egte Namakwalandse manier vir ons gesê: “Kyk, Driesman en Hessie, ek is mos nie sleg grootgemaak nie. Ek het mos groot-groot gestane slegword.”
Dis waar van almal van ons wat nié as engele gebore is nie. Daar is mos daai ultra vromes wat elke taak – selfs die geringste lewensplesiertjie – met skriflesing en gebed open. Ek praat van dié wat ook soos ons vriend goed grootgemaak is en iewers langs die pad – gewoonlik in jeugdige onbesonnenheid – ’n verkeerde afdraai gevat het. Die meeste het gou weer op die regte pad uitgekom en nie rêrig groot-groot sleg geword nie.
My ouers het my op my lewens- pad steeds ekstra lewenswaarhede geleer. So het my wyse ma, wat haar middelkind baie goed geken het, my in my vroeë tienerjare gewaarsku dat my mond sal maak dat my agterkant brand.
Dit gebeur toe natuurlik net so. Die gevolg was onverwagte en baie intense, fisieke pyn. Genadiglik was dit van korte duur en vir altyd verby. Sy het my mos gewaarsku dat my mond sal maak dat my agterkant brand.
Toe ek mooi groot was, het sy vir my gesê: “Onthou, daar is niks in die lewe wat jou so vang soos jou woorde nie.” Die waarword daarvan het lank gevat om my te tref, maar dit was ’n harde hou wat emosionele pyn en selfverwyt veroorsaak het.
In die begin van die jare sewentig as 26-jarige baie wyse koshuisma vir die nuwe Boishaai-standerdsessies was van hulle se ouer broers al besig met verpligte weermagopleiding.
Wanneer die ma’s van die seuns vir my vertel van hul kommer, hartseer en angs vir hul kinders in die army en die Grens-toe-ganery, sê slim ekke mos: “Ag nee wat. Dis die beste ding wat jou seun nou kan tref.” Sien, myne is mos toe nog kwalik by hul peuterstadium verby.
En toe, op ’n spesifieke dag, moes ons ons oudste op die spesiale trein by Dal Josafatstasie gaan sit, saam met reeds honderde ander pragtige jong seuns op pad vir opleiding. Toe ons met die trappe afstap na die parkeerterrein, kon ek skielik nie lekker sien nie. Gelukkig was Dries se hand daar. Hy kyk my en sê “my vrou, wat’s nou fout?” Toe huil ek ook oor my groot seun, soos die ander ma’s, en toe is daar mos nog een agterna ook.
So was my ma mos reg oor jou woorde wat jou vang. Dit het my beskaam en baie trane ook laat huil, want het ek mos gesien wat dit aan ons seuns op die Grens gedoen het – daar waar Boishaaiers wat ons geken het, ook gesneuwel het, soos ons hartsvriende se oudste, wat voor ons grootgeword het: Christo, wie se blonde babakrulle Dries op sy pa se versoek afgesny het. Ek onthou steeds hoedat sy ma gehuil het die dag toe hulle hom gegroet het op pad Grens toe. Dit was die laaste sien.
Ek het maar gehoop die goeie Vader het my verkeerde woorde goedgemaak voordat dit kon land daar waar dit gemik was. Dit was soos my skoonma aan my gesê het van iets ondeurdag wat sy iemand toegevoeg het. “Jy weet, ek het gewens ek kon my woorde in die lug vang, voordat dit geland het.”
Van die een treurige noot op ’n ander nog treuriger een. Ek wonder of Ramaphosa en Kie nou al besef dat hul pro-Palestynse woorde besig is om hul agterkante te laat brand? Dié dat hulle skynbaar nie kan dink nie, het massas geld reeds sedert Oktober 2023 die land uit gevloei en is net soveel mense ook weg. Het hulle al besef dat hul anti-Israel-uitsprake onnodige pyn en spanning in ons reeds verdeelde volk veroorsaak het? Weet hulle nie watter geweldige bydrae die Joodse gemeenskap in Suid-Afrika – vergeet van die hele wêreld – nie net finansieel nie, maar op elke moontlike vlak gemaak het nie? Ek is stom verbaas dat Ramaphosa Trump wil besoek “to educate him” – hy wat nie eens Zuma en Lesufi op hul plek kan sit nie.
Belagliker as Malemma kan ’n mens nie sommer wees as jy nie oor rasionele denke beskik nie. Sien hy kans om die wêreld se rykste man, ’n boorling van Suid-Afrika wat presies weet wat hier aangaan en nie Sosialisme voorstaan nie, aan te pak?
Wys hy toe sy opvoedingsvlak deur Elon Musk op sosiale media vieslik te vloek – presies soos die dronkes hier in my dorp gereeld met mekaar doen.
Ek glo Malemma se woorde sal hom nog vang. Is eintlik maar karma, en dié is ’n wetterse ding.
Woorde het rêrig ’n nare manier met ’n mens, dus dink ek die beter ding om te doen is om die Goot Boek te lees. Daarin is duidelike riglyne oor hoe om jou medemens en andersdenkendes te hanteer. Ek probeer niemand evangeliseer nie; het lankal besef dis nie haalbaar vir 99% van Suid-Afrika se inwoners nie. (Ek hoop dié woorde vang my.)