Volgens voorspellings van die Suid-Afrikaanse Weerdiens kan die Wes-Kaap-provinsie gereed maak vir ’n aansienlike droër as normale winter vanjaar.
Die seisoenale vooruitskattings dui op ‘n ondergemiddelde reënval tot September, wat kommerwekkend is vir watersekerheid en landbouproduksie wat swaar op winterreënval steun om waterbronne aan te vul.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens se maandelikse seisoenale klimaatverslag, wat ’n voorspelling van vyf maande, van Mei tot September, bied, het sy droë vooruitsig vir die suidwestelike dele van die land bevestig. “Die suidwestelike dele en die suidelike en oostelike kusgebiede sal na verwagting meestal ondergemiddelde reënval gedurende die vroeë-, middel- en laat winter ontvang,” lui die verslag.
Hierdie voorspelling is veral kommerwekkend vir die Wes-Kaap, waar damvlakke tans op slegs 57,2% staan – aansienlik laer as enige ander provinsie in Suid-Afrika. Die streek is afhanklik van winterreënval om sy reservoirs aan te vul, en dit herinnering aan Kaapstad se “Dag Zero” van 2018 waar waterskaarste vining tot ’n groot ramp kan lei.
Terwyl die Wes-Kaap droë toestande in die gesig staar, is die prentjie dramaties anders oor groot dele van Suid-Afrika se binneland. April was nat oor streke soos die Vrystaat en Gauteng wat somerreënvalstreke is. Die Vaaldam se vlakke het vanjaar byna 120% bereik, wat owerhede gedwing het om 10 sluise oop te maak en ontruimingskennisgewings uit te reik terwyl die Vaalrivier se watervlak gestyg het. Net so nader die Katsedam in Lesotho, wat ’n groot deel van Gauteng se water voorsien, ‘n 100%-kapasiteit.
Hierdie sterk kontras beklemtoon die uiteenlopende klimaatpatrone wat verskillende dele van die land beïnvloed, met die Wes-Kaap wat droeër toestande ervaar terwyl ander streke oormatige water bestuur.

Die temperatuurvoorspelling vir die komende wintermaande dui op toestande wat warmer as gewoonlik gaan wees oor die grootste deel van Suid-Afrika. “Minimum- en maksimumtemperature sal na verwagting hoofsaaklik bo normaal wees vir die meeste dele gedurende die winterseisoen, met die noemenswaardige uitsondering van die suidelike kusgebiede waar dele daarvan na verwagting onder normaal sal wees,” volgens die Weerdiens se verslag.
Hierdie warmer winter kan verligting vir die nasionale kragnetwerk bring deurdat die verwarmingsaanvraag aansienlik minder gaan wees wat weer daartoe kan lei dat die behoefte vir Eskom om beurtkrag tydens spitstye te implementeer, nie nodig sal wees nie.
Volgens die Weerdiens sal Suid-Afrika na verwagting neutrale ENSO (El Niño-Suidelike Ossillasie) toestande gedurende die 2025-winter ervaar.
“Die invloed van ENSO oor Suid-Afrika is meestal beperk tot die middel-somermaande en die somerreënvalstreek. Dit beteken dat nóg El Niño nóg La Niña ’n beduidende impak op die winterweer vanjaar sal hê.”
Die afwesigheid van hierdie groot klimaatverskynsels dui daarop dat ander faktore die droë voorspelling vir die Wes-Kaap kan beïnvloed.
Die geprojekteerde reënvaltekort skep aansienlike uitdagings vir stedelike watersekerheid en landbouproduksie in die Wes-Kaap. Alhoewel die huidige watervlakke vir landbou na berig word goed is, kan ’n droër winter later in die jaar ernstige uitdagings vir boere skep.
Met hierdie voorspellings in gedagte, word inwoners en owerhede in die Wes-Kaap aangeraai om proaktiewe waterbesparingsmaatreëls te implementeer. Vir huishoudings kan dit beteken om korter storte te neem en onnodige watergebruik te verminder. Vir die landbou sal noukeurige beplanning van besproeiingskedules en gewaskeuses noodsaaklik wees.
Die voorspelling beklemtoon ook die toenemende belangrikheid van klimaatveerkragtigheids-beplanning in ’n streek wat reeds kwesbaar is vir waterskaarste. Die Wes-Kaap se ervaring met die 2018-droogte het getoon dat “Dag Zero” vinnig ‘n werklikheid kan word, wat daarop dui dat soortgelyke toestande ander streke met vergelykbare klimaatpatrone kan beïnvloed.
Tans is die totale stand van die Wes-Kaap-damme 56,01% in vergelyking met 56,88% dieselfde tyd in 2024.
You must be logged in to post a comment.