Nog swaar reën, sneeuneerslae vir Wes- en Oos-Kaap voorspel

Nog swaar reën asook sneeu kan Sondag in die Wes-Kaap verwag word waarna die kouefront Maandag en Dinsdag na die Ooste van die land sal verskuif. Die Suid-Afrikaanse weerdiens het […]

Swaar weer vir Sondag voorspel

Nog swaar reën asook sneeu kan Sondag in die Wes-Kaap verwag word waarna die kouefront Maandag en Dinsdag na die Ooste van die land sal verskuif.

Die Suid-Afrikaanse weerdiens het Saterdagaand ‘n geel vlak-3 waarskuwing gerig vir ontwrigtende sneeu wat kan lei tot ysbedekte paaie en verkeersontwrigting Sondagaand, op veral die N1-snelweg in die gebied van Beaufort-Wes in die Wes-Kaap. Dit sal na verwagting voortduur tot Maandag.

‘n Geel vlak-2 waarskuwing vir rowwe seetoestande tussen Saldanha- en Plettenbergbaai is vir dieselfde tydperk ingestel.

Enkele voorvalle van padsluitings, oorstroomde gebiede aangemeld

Die Theewaterskloof-munisipaliteit het vroeër Saterdagmiddag die sluiting van Ou Kaapse weg in Grabouw op sy Facebook-blad bevestig nadat ‘n muur naby die rugbyveld meegegee het.

‘n Muur het vroeër Saterdagmiddag in Ou Kaapse Weg, Grabouw meegegee. Foto: Theewaterskloof Municipality/ Facebook

Die Drakenstein-munisipaliteit het op sy beurt gesê noodspanne is in verskeie gebiede ontplooi om te help met opruimingsaksies waar oorstromings aangemeld is. Alle paaie in die gebied is oop vir verkeer.

Charlotte Powell, woordvoerder van die Kaapstad-metro se rampbestuur het in ‘n mediaverklaring gesê ook hiér is geen ernstige gevalle aangemeld wat met huidige weersomstandighede verband hou nie.

Intussen bly munisipaliteite op ‘n hoë gereedheidsgrondslag vir noodgevalle wat weens die gure weerstoestande mag opduik en word motoriste gemaan om reis, waar moontlik, te beperk.

Kouefront skuif na Ooste

Die kouefront sal Maandag na die Oos-Kaap verskuif waar verskeie geel vlak waarskuwings vir ernstige weerstoestande deur die weeragentskap uitgereik is.

‘n Geel vlak-6 waarskuwing is van krag vir die Joe Gqabi-distrikmunisipaliteit, asook die plaaslike munisipaliteite Enoch Mgijima (Molteno) en Matatiele. Swaar sneeuneerslae word verwag wat ‘n gevaar vir lewens kan inhou, met moontlike padsluitings en gemeenskappe wat afgesny kan word, het die weeragentskap gewaarsku.

Geel vlak-5 waarskuwing: reën en oorstromings in OR Tambo en ander munisipaliteite

In die OR Tambo-distrikmunisipaliteit, sowel as Mbashe, Mnquma, Great Kei, Ngqushwa, Ndlambe, Sundays River, Buffalo City en Nelson Mandela Metropolitaanse munisipaliteite, is daar ‘n geel vlak-5 waarskuwing vir ontwrigtende reën. Hierdie reën kan lei tot lewensgevaar, oorstromings, verplasing van nedersettings en modderstortings.

Geel vlak-2 waarskuwing: sneeu en reën in Chris Hani, Sarah Baartman en ander areas

‘n Geel vlak-2 waarskuwing is uitgereik vir Chris Hani-distrikmunisipaliteit (uitgesluit Molteno, Intsika Yethu en Dr AB Xuma), DR Beyers Naudé (Graaff-Reinet), Raymond Mhlaba, Amahlathi en Umzimvubu plaaslike munisipaliteite weens swaar sneeuneerslae wat kan lei tot verlies van vee, sluiting van klein bergpasse en verkeersontwrigting.
Daarbenewens word daar ook waarskuwings vir ontwrigtende reën met modderstortings en oorstromings in Sarah Baartman (uitgesluit Willowmore en Jansenville), Chris Hani, Joe Gqabi, Alfred Nzo, Raymond Mhlaba, Amahlathi en Mhlontlo munisipaliteite uitgereik.

Ook hier word inwoners versoek om voorsorgmaatreëls te tref, op hoogte te bly van weeropdaterings en om slegs te reis indien noodsaaklik, totdat die toestande verbeter.


.

You need to be Logged In to leave a comment.