Met heelwat kouer temperature wat vir die naweek voorspel word, het ryp reeds op Vrydagoggend 2 Mei in dele van die Noord-Kaap voorgekom.
“Ons het nie net ryp gekry nie, maar die water buite was gevries. Die krane was ook effe gevries. Dit was laasjaar die tyd baie warmer as nou,” sê Albertus Horn. Horn is ‘n natuurfotograaf en woon in die omgewing van die Kuruman-heuwels tussen Kuruman en Daniëlskuil.
Op sy Facebook-blad plaas hy dan ook verskeie foto’s van die ryp-neerslag wat hy Vrydagoggend geneem het. Hy deel ook ‘n video van die voëlbak se water wat ge-ys het.
Die weerdiens, Vox Weather, het vir Vrydag baie koue toestande met ligte ryp oor die Suid-Afrikaanse binneland voorspel. Onstuimige seetoestande en sterk wind langs die kusgebiede word verwag.
Reën en donderstorms word vir die noordelike dele van die land voorspel. Reën word ook aan die Wes-Kaapse kuslyn, en die van Kwa-Zulu Natal verwag.
Ligte sneeu-neerslae is op dele van die Drakensberg aangemeld, asook op die Lootsbergpas in die Graaff-Reinet-omgewing in die Oos-Kaap. Baie ligte sneeu het ook in die Sutherland-omgewing in die Noord-Kaap geval. Sien foto’s hiervan op Snow Report SA op Facebook.

Volgens die weerdiens yr.no word ‘n minimum temperatuur van 4 grade celsius vir Saterdagoggend in Kimberley verwag, met ‘n maksimum van 15 grade celsius. Vir Sondag is dit onderskeidelik 5 grade celsius en 19 grade celsius, en Maandag 9 grade celsius en 21 grade celsius.
Kuruman se voorspelling vir Saterdag is onderskeidelik minimum 5 grade celsius en maksimum 17 grade celsius, vir Sondag 5 grade celsius en 18 grade celsius, en vir Maandag 8 grade celsius as minimum, met ‘n maksimum van 18 grade celsius.
In die Upington-omgewing word effens warmer temperature voorspel. Vir Saterdag word ‘n minimum van 7 grade celsius voorspel, met ‘n maksimum van 20 grade celsius. Sondag is die voorspelling onderskeidelik 6 grade celsius en 23 grade celsius, terwyl temperature vir Maandag as 13 grade celsius minimum en 26 grade celsius maksimum voorspel word.
Vir die res van volgende week word koeler oggendtemperature verwag, terwyl die kwik deur die dag tot 20 grade celsius en so hoog as 28 grade celsius styg.

You must be logged in to post a comment.