Olifantshoek se bekendste baken het ‘n nuwe tuiste in dié Noord-Kaapse dorp gekry. Menige reisiger het die afgelope dekades dié baken, ‘n beeld van ‘n olifant, opgemerk en afgeneem.
Onlangs het ‘n reisiger laat weet: “Olifantshoek se olifant is weg. Is die dorp se naam nou net Hoek?”
Dié olifant wat sedert die 1970’s op ‘n oop terrein langs die hoofstraat gestaan het, pryk nuut oorgedoen voor die Kalahari-hotel, ook langs die hoofstraat. Dié hotel, die oudste in die dorp, is op die hoek van Van Riebeeck- en Dalgetty-straat. Die N14 strek as Van Riebeeckstraat deur die dorp.
Mede-eienaar van die hotel, Magret Malan, sê hulle het by die Gamagara-munisipaliteit aansoek gedoen om die olifant te mag skuif.
‘n Hoofrede was dat die olifant die afgelope jare aan verwaarlosing en vandalisme blootgestel was. So is onder meer verlede jaar in die winter opgemerk dat haweloses besig was om vuur by die beeld te maak. Teen daardie tyd was een tand reeds verlore, die olifant was sonder ‘n stert, en die veselglaslyf het ‘n gat ingehad.
Malan vertel dat vasgestel is dat die olifant in die 1970’s as ‘n skoolprojek van die Hoërskool Langberg gemaak en opgerig is. Volgens stevenson.info is die beeld deur ene Louis Gay vir die inhuldiging van die hoërskool in 1974 gemaak.

Daar is ook vasgestel dat die olifant op een van drie plekke in die dorp mag staan: waar dit gestaan het, voor die munisipaliteit, of by die Kalahari-hotel.
So het dit gebeur dat die olifant ‘n nuwe plek by die hotel gekry het. Die olifant het weer ‘n stert en ‘n tweede tand gekry, en die gat is reggemaak.
Met ‘n blinknuwe verflaag wag Olifantshoek se olifant by die hotel om verbygangers vir ‘n foto te verwelkom.
Grootvoete glo volop in vroeëre jare
Olifantshoek is aan die voet van die Langberg geleë. Die dorp se naam is afkomstig van die oorspronklike Tswana-naam, “Ditlou”, wat olifant beteken. Die ligging is glo so genoem omdat olifante volop hier voorgekom het.
Volgens talle bronne is die eerste steengebou in Olifantshoek in 1906 gebou, wat onder meer ‘n polisie-sel met ‘n magistraatskantoor langsaan was. In daardie jare is polisiepatrollies in die gebied op kamele gedoen. Die gebruik het glo in 1946 tot ‘n einde gekom.
Die omgewing was vroeër jare berug vir sy slegte grondpaaie. Dit het drasties verbeter toe die teerpad tussen Kuruman en Upington, via Olifantshoek, in 1975 voltooi is.

You must be logged in to post a comment.