Twee werknemers van die Moorreesburg-verkeersdepartement is op administratiewe verlof geplaas hangende die uitkom van ‘n ondersoek na bewerings van moontlike wangedrag en korrupsie.
‘n Lasbrief is vanoggend (Donderdag 29 Mei) by dié plaaslike verkeersdepartement uitgevoer waar daar ook op dokumente en selfone beslag gelê is.
Dit kom ná onlangse bewerings van moontlike onreëlmatighede wat nou deur nasionale en provinsiale owerhede ondersoek word.
Luidens ‘n verklaring van die Swartland-munisipaliteit het sy munisipale bestuurder, Joggie Scholtz, en die Uitvoerende Burgemeester, raadsheer Harold Cleophas, onmiddellik druk op owerhede geplaas om nadere ondersoek in te stel toe die bewerings van korrupsie en wangedrag deur amptenare aan die lig gekom het.
’n Gesamentlike ondersoek is van stapel gestuur deur die Nasionale departement van vervoer, die Wes-Kaapse departement van mobiliteit, en die SAPD se provinsiale kommersiële misdaadeenheid, met volle samewerking van die Swartland-munisipaliteit.
Die munisipaliteit sê in die verklaring hy beskou enige bewerings van wangedrag of korrupsie deur amptenare in ‘n uiters ernstig lig en sal verseker dat ‘n deeglike ondersoek na die beweringe geskied.
“Ons sal die sterkste moontlike stappe neem teen enige munisipale amptenaar wat skuldig bevind word aan wangedrag of korrupsie. Swartland-munisipaliteit handhaaf ’n nulverdraagsaamheidsbeleid teenoor enige onreëlmatige optrede en sal voortgaan om in die beste belang van die munisipaliteit en die gemeenskap op te tree,” het die burgemeester en munisipale bestuurder in die gesamentlike verklaring gesê.
Terwyl die ondersoek voortduur, het die munisipaliteit maatreëls ingestel om dienslewering by die Moorreesburg-verkeersdepartement te verseker en sal alle nodige pogings aanwend om ontwrigting tot ’n minimum te beperk. Enige amptenaar of lid van die publiek met addisionele inligting word versoek om dit aan die kantoor van die munisipale bestuurder of die interne ouditeure te rapporteer. Alle inligting sal vertroulik hanteer word; skakel 022 487 9400.