BloemNuus

Bejaarde (85) in hof vir moord nadat hy glo seun in Bainsvlei skiet

Gert Bruhns, 85, het vandag in die Bloemfonteinse landdroshof op moord aanklag verskyn. Hy word daarvan aangekla dat hy sy seun Erich, 56, in Bainsvlei geskiet het.

Erich Bruhns
Erich Bruhns wat na bewering Saterdag deur sy 85-jarige pa, Gert Bruhns in die nek geskiet is. Credit: Facebook

Lientjie Mentz

Gert Bruhns (85) het vandag in die Bloemfonteinse landdroshof op aanklag van moord verskyn nadat hy na bewering Saterdag sy seun, Erich (56), in Bainsvlei geskiet het.

Erich is Saterdag by ‘n woonhuis is Meadhurstlaan glo in die nek geskiet waarna nooddienste hom na ‘n hospitaal geneem het. Hy het Sondag aan sy wonde beswyk.

Bruhns senior is kort ná die insident in hegtenis geneem nadat hy glo van die toneel probeer vlug het.

Sers. Mahlomola Kareli sê die polisie het hom naby die N1-snelweg in hegtenis geneem en ‘n gelaaide vuurwapen en ekstra ammunisie is by hom gekry.

Bruhns se saak is tot 29 April uitgestel wanneer hy om borgtog kan aansoek doen.  Hy bly in aanhouding.

LaReece Visagie kla aan.

You need to be Logged In to leave a comment.