Nuuskierigheid is die belangrikste element van ‘n ideale leeromgewing. Wanneer dit afneem, stel kinders al minder in verkenning, ontdekking, speel, skeppendheid en eksperimentering belang. Meer nog, hul lewensvreugde neem af.
Nuuskierigheid neem af wanneer dit nie gestimuleer word nie.
So vertel Lizette van Huyssteen van die Practica-program wie sê dat dit nie goed genoeg is om net die nodigste te doen en terug te staan sodat ander die leiding neem nie.
Navorsers sê daar is goeie rede dat kinders van nature nuuskierig is. Nuuskierigheid is die motivering waarmee babas gebore word. Dit spoor hulle aan om mense, hul omgewing, alledaagse voorwerpe, verskynsels en idees noukeurig waar te neem en te ondersoek.
Nuuskierigheid is die brandstof in die tenk vir ‘n ideale leeromgewing. Dit neem egter af wanneer dit nie gestimuleer word nie.
Wakker nuuskierigheid aan

Prikkel doelbewus kinders se nuuskierigheid. ‘n Maklike manier is om tydens lesaanbiedings en alledaagse gesprekke “oop vrae” te vra. So leer kinders om oor die antwoord na te dink. ‘n Geslote vraag het net een antwoord, terwyl ‘n oop vraag op verskeie maniere beantwoord kan word.
Multi-sensoriese, tasbare leerervarings ontlok meer nuuskierigheid. Kinders geniet dit meer om te leer terwyl hulle aan voorwerpe raak en dit hanteer. Hulle wil ook sover moontlik daarmee speel en eksperimenteer.
Kinders tree meer nuuskierig op wanneer hulle kan beweeg terwyl hulle leer. Hulle wil nie net dophou wat gebeur of luister na wat iemand sê nie, maar wil self by die ervaring betrokke wees.
Besluit vooraf wat jou kinders oor ‘n onderwerp moet weet en gebruik dit as ‘n vertrekpunt. Wanneer hulle dit wat jy ten doel gestel het onder die knie het, kan hulle besluit wat hulle verder oor die onderwerp wil leer deur vrae te vra en te sê waaroor hulle wonder. Tydens die res van die leerervaring kan julle daardie vrae saam beantwoord.
Nuuskierigheid hou lewenslank voordele in. Nuuskierige volwassenes blink in die werksplek uit omdat hulle geneig is om kennis van verskeie dissiplines in te win. Gevolglik kan hulle probleme met meer insig en ook meer skeppend oplos.
– Artikel verskaf vanaf die Afrikaanse Onderwysnetwerk. Klik hier om hul webtuiste te besoek en meer te leer.