Paarl Post

Radiolegende Darren Scott oorlede – Radio legend Darren Scott passes away

Darren Scott (61), bekende radio-omroeper, is oorlede nadat hy teen melanoom-kanker geveg het.

Darren Scott
Darren Scott (61). Foto: HOT 102.7 FM/ Facebook

Darren Scott (61), ’n bekende radio-omroeper is vanoggend (27 Mei) oorlede na ’n lang, dapper stryd teen gevorderde fase vier melanoom-kanker.

READ THE ARTICLE IN ENGLISH HERE

Dié veteraan in uitsaaiwese het diep spore getrap in die uitsaaibedryf en in die harte van getroue luisteraars.

Melanoom-kanker is vir die eerste keer in 1986 by Scott gediagnoseer. Toe hy aan die begin van 2025 wéér met dieselfde kanker gekonfronteer is en die mediese kostes toegeneem het, het die publiek hande gevat.

’n Befondsingsprojek op BackaBuddy was van stapel gestuur deur sy gewese vrou Sarah-Kate Accetta, het binne dae honderde duisende rande ingesamel. Dit het getuig van die liefde en respek wat mense vir hom gehad het.

’n Ryk loopbaan

Darren het sy reis as radiomroepper in die vroeë 1980’s begin en het spoedig een van die mees herkenbare stemme op Suid-Afrikaanse luggolwe geword.

Sy loopbaan het hom geneem van Capital Radio en Radio Bop, tot groot stasies soos 5FM, Jacaranda FM, East Coast Radio, en uiteindelik HOT 102.7FM.

Simon Parkinson, ontbytaanbieder by HOT 102.7FM, het hom beskryf as die mees toegewyde radiomens wat hy nog geken het.

“Daar was ’n tyd wat Darren twee regstreekse programme op ’n dag hanteer het – ontbyt-sessies in een provinsie en aand-sessies in ’n ander. Wie doen ses uur regstreekse radio elke dag? Darren het!”

In 2024 is Darren opgeneem in die Radio Awards Hall of Fame – ’n prestasie wat sy bydrae tot die bedryf amptelik erken het.

Scott was vir ongeveer 40 jaar in die uitsaaiwese.

‘n Lewe gevier

Darren se vermoë om ’n gehoor te betrek was ongeëwenaard.

Shane Wellington, nog ‘n omroepper by HOT 102.7 FM het gesê: “Dit was ongelooflik om te sien hoe natuurlik dit vir hom was. Hy het ’n talent gehad – daardie seldsame geskenk om jou te laat voel jy’s die enigste een wat luister.”

Hy was ook een van die eerste persone wat genader is toe HOT 102.7FM gestig is.

Lloyd Madurai, die stigter van die stasie, onthou: “Toe ek hom gebel het, het hy net gesê: ‘Ek’s in. Kom ons vat die pad.’ En daar was weer daardie vonk in sy oë.”

Accetta het op Facebook gedeel: “Dit is met die swaarste, mees gebroke hart dat ek deel [dat Darren het hierdie aarde verlaat het en is nou in die liefdevolle arms van Jesus.”

“Daar bestaan eenvoudig nie woorde wat die diepte van my dankbaarheid kan beskryf teenoor elke liewe persoon wat bygedra het, gebid het, en aan sy sy gestaan het tydens die grootste stryd van sy lewe nie.”

“Julle vrygewigheid deur die Back-a-Buddy-veldtog het nie net behandeling moontlik gemaak nie — dit het vir Darren hoop gebring.”

“Dit het vir hom waardigheid gegee. En dit het vir hom die kosbare geskenk gegee om werklik geliefd te voel.”

“Ek het dag na dag gesien hoe hy deur julle boodskappe blaai — met ongeloof, nederigheid, oorweldig deur emosie en tot trane geroer. Hy kon nie glo soveel mense gee om nie. Dankie dat julle hom dit gegee het in sy laaste maande.”

“Soos ons nou huis toe keer — nie net om sy lewe te herdenk nie, maar om te leer hoe om sonder hom voort te leef — vra ek uit die diepste punt van my hart: asseblief, bid vir die [Scott en Accetta se] seuns.”

“Hulle wêreld het onherroepelik verander, en ons het elke bietjie krag nodig waaraan ons kan vasklou.”

“Rus in ewige vrede, Darren.”

“Jy was so geliefd. En jy sal altyd wees.”

Scott laat sy twee seuns, Mark en Matthew, asook sy pa agter.

  • Bronne geraadpleeg vir hierdie berig sluit in Maroela Media, HOT102.7 FM, The South African, Good Things Guy asook sosiale media.

You need to be Logged In to leave a comment.