Tien jaar nadat sy op 73-jarige ouderdom op doktersaanbeveling begin draf het, is ‘n ouma van Durbanville op 3 Mei in Oudtshoorn deur SA Meestersatletiek by sy jaarlikse prysuitdeling met Suid-Afrikaanse nasionale kleure in atletiek in haar ouderdomsgroep vereer.
Sheila Joseph, wat 84 jaar oud raak in Julie, het SA kleure verwerf in twee baan-items in die kategorie vir vroue 80 jaar en ouer, die 5 000 m-wedloop én 5 000m-spoedstap, wat haar die vinnigste vrou in die land ouer as 80 jaar maak.
Hartprobleme
Om haar groen Springbokbaadjie aan te trek, is vir haar ‘n groot eer en iets wat sy nooit gedink het moontlik is toe sy twee jaar voor sy begin stap en draf het, ‘n pasaangeëer na hartprobleme in 2013 moes kry. Die hartchirurg, dr. Wouter Basson, het haar aanbeveel dat sy meer oefening moet begin doen.
Eers het sy van die een na die ander lamppaal afwisselend gestap en gedraf, later 5 km en nie te lank daarna het sy die hele 5 km kon draf.
Joseph het daarna haar drafmaat, die 82-jarige Chris Clark van Durbanville, ontmoet en hulle het aan veldwedlope (trail runs) begin deelneem. Haar talent is raakgesien en mense het haar aangemoedig om aan baanitems van SA Meestersatletiek deel te neem.
In haar kantoor hang 226 medaljes van veldwedlope waaraan sy deelgeneem het, waarvan die mees onlangse die Mistica 6 km-wedloop op Simonsig op 29 Maart is.
Sy het in 2021 by die Durbanville-atletiekklub aangesluit. Dit was nie lank nie, toe verwerf sy haar Westelike Provinsie-kleure.
Goue medalje
Sy was die enigste atleet in haar ouderdomskategorie by die SA Meesterstletiekkampioenskap in die Groenpunt-stadium maar het saam met ander atlete deelgeneem, elkeen in sy eie kategorie.
Haar tyd van 37 minute en 31.89 sekondes het haar ‘n goue medalje besorg.
Haar kinders, Kathryn Sakalis van Welgedacht and Paul Joseph van Douglas, is ewe trots op haar prestasie en moedig haar gereeld aan om die uitdagings te aanvaar.
Donkersjokolade en rooiwyn
Joseph vertel dat sy deesdae graag sommer vroegoggend in die Villa Cortona-aftreekompleks, waar sy sedert 2011 woon, oefen – so 5 km drie keer week!
Sy het in 2011 vanuit Douglas in die Noord-Kaap, waar sy vir jare die mede-eienaar van die OK Grocer was, na Kaapstad verhuis.
Haar geheim vir haar atletieksukses is donkersjokolade en rooiwyn.
Ook om te reis.
Sy het jare gelede toe die Sewe Wonders van die Nuwe Wêreld aangewys is, besluit om almal te besoek.
Sy was al op onder meer Machu Picchu in Peru, op die Groot Muur in China, by die Taj Mahal in Indië, by Petra in Jordanië, die Colosseum in Italië, asook die Chichén Itza in Mexico en Christ the Redeemer in Brasilië.
Sy wil haar 84ste verjaarsdag op 12 Junie in die suide van Frankryk gaan vier.