BloemNuus

Sit aan, nuwe kos(boek) is op die tafel

Elmarie Berry, ‘n oudleerling van die Hoër Meisieskool Oranje, het haar kosreis in Bloemfontein begin en het ‘n suksesvolle kosblog en twee resepteboeke, insluitend haar nuutste, The Table, uitgegee.


Van ‘n blote liefde vir kosmaak, tot ‘n platform waarop mense wêreldwyd in haar kennis van kos kan deel.

Elmarie Berry, oudleerling van die Hoër Meisieskool Oranje, se pad met kos het hier in Bloemfontein begin.

Op ‘n geselligheid op 13 Mei kon vroue van die NG kerk Heuwelsig in haar vertellings saamreis en boonop self proe.

Elmarie, wat einde verlede jaar haar tweede kosboek, The Table, bekend gestel het, vertel sy het van jongs af al by haar ma, Nellie, en haar Lebanese ouma, Cedar, geleer om kos te maak.

Op skool het sy kosklasse by Marcelle Botha van die Demo-Den geneem.

Ná skool het sy in restaurante en hotels gewerk waar sy haar kennis van kos verbreed het.

Elmarie Berry, middel saam met twee vroue wat die NG kerk Heuwelsig se vroue-aand bygewoon het. Hulle is Louise Venter (links) en Waldi Burger (regs). Foto: Lientjie Mentz

Dit was toe sy en haar man, Tian, in Port Alfred gewoon het, dat sy noodgedwonge haar kosagtergrond begin inspan het om ‘n inkomste te verdien. Die besigheid het begin met haar en ‘n vriendin wat tuisgemaakte etes verkoop het. In enkele jare het dit tot ‘n suksevolle onderneming ontwikkel wat sy later aan iemand oorgegee het toe die gesin in 2015 Kaap toe verhuis het.

In die Kaap het sy met ‘n kosblog begin en gou besef dat om foto’s te neem vir haar net so ‘n lekker uitdaging is. In 2018 het sy met ‘n nuwe onderneming, Samesyn, begin waar sy pragtige foto’s op linne laat druk.

Net soos met baie entrepreneurs het die Covid-19-pandemie ook vir haar nuwe deure oopgemaak.

Elmarie Berry se nuutste boek, The Table.

“Ek wou nog altyd ‘n resepteboek maak, en hierdie was my geleentheid.”

Sy wou baie graag ‘n boek uitgee wat die leser se siel sou voed – iets waarmee lesers saam met hul vriende en familie herinneringe kon skep.

Die boek Kosbaar het in 2023 ‘n internasionale Gourmand-eerbewys gewen.

Die vroue wat die geselligheid gereël het en die kos gemaak het, is van links, voor: Desiré Lotter, Corleen van der Merwe, Alit van Rensburg, Elmarie Berry (gasspreker), Marianna Smith en Rika Lombard; agter: Louise Rossouw, Eretha Roscher, Mariette Kriek en Sorine Swanepoel. Foto: Lientjie Mentz

Dié boek het gelei tot talle reise en kosdemonstrasies oor Suid-Afrika heen, maar selfs ook tot in Doebaai.

Verlede jaar het Elmarie se tweede boek, The Table, verskyn – wat ook vir ‘n Gourmand-eerbewys benoem is.

Twee vriendinne wat Dinsdag se demonstrasie by Heuwelsig bygewoon het, Louise Venter en Waldi Burger, sê wanneer hulle resepte uit Elmarie se kosboeke maak, is hul vriende mateloos beïndruk met hul kosmaakvermoë.

“Dit is presies wat ek wil hê,” het Elmarie daarop gesê.

Vir haar gaan dit daaroor om mooi kos maklik en lekker te maak.

Sy gee heelwat kortpaaie in haar resepteboek en wys lesers hoe om smaaklike gourmet-geregte in hul eie huis voor te sit.”

In The Table kombineer sy Suid-Afrikaanse resepte met ‘n Midde-Oosterse invloed.

Elmarie glo dat daar ‘n foto van elke resep in die boek moet wees, so nie net is die resepte oorspronklik en relatief maklik nie, die foto’s wat sy self geneem het, is pragtig.

Belangstellendes kan haar webblad, elmarieberry.com, besoek vir ‘n kykie na die produkte wat sy maak, asook haar blog en kookboeke.

■ Een leser staan die kans om ‘n kopie van The Table te wen.

Besoek BloemNuus se Facebook-blad vir meer inligting oor die kompetisie.

You need to be Logged In to leave a comment.