Die Wes-Afrika-kabelstelsel (WACS), ‘n ondersese optieseveselkabel van 14 500km wat Suid-Afrika via Yzerfontein as ‘n landingspunt met Europa verbind, ondergaan tans noodinstandhoudingswerk.
Dit volg nadat ‘n foutiewe vertakkingseenheid opgespoor was, het Robert Kraai, sake-ontwikkeling -en bedryfspesialis van OpenServe, Dinsdag in ‘n plasing op LinkedIn bevestig. Tim Ekandjo, ‘n kommunikasiepraktisyn van MTC, ‘n mobiele telekommunikasiemaatskappy in Namibië het op sy beurt in ‘n persverklaring bevestig dat die foutiewe eenheid naby hul kus gevind en herwin is. Volgens die verklaring, het noodherstel -en instandhoudingswerk omstreeks 02:00 Sondag (1 Junie) begin en sal na verwagting tot 16 Junie om 08:00 voortduur.
Sommige internetverbruikers in Suid-Afrika het intussen vandeesweek stadiger spoed ervaar nadat MTC bevestig het dat mense wat op die kabel vir hul internetverkeer staatmaak, geaffekteer sal word. Volgens ‘n artikel op MyBroadband se webblad, is daar opgelet dat baie meer klagtes oor stadiger internetverbinding vanuit die Kaap ontvang word as vanuit Gauteng.
Volgens Kraai het ‘n Wacs-verteenwoordiger in ‘n kennisgewing verduidelik dat die foutiewe vertakkingseenheid nou met ‘n nuwe vertakkingseenheid vervang sal word. “Toetse wat op die nuwe eenheid uitgevoer is, het bevestig dat dit honderd persent funksioneel is. Die herwonne eenheid sal intussen na ‘n verskaffer geneem word vir verdere ontleding om vas te stel wat skeefgeloop het, terwyl die nuwe eenheid geïnstalleer sal word. Tot dusver verloop die herstelwerk volgens plan. Verkeer sal herstel word sodra alle herstel- en na-hersteltoetse uitgevoer is en seinvloei vanaf Suid-Afrika na Lissabon (Portugal) en dan na Londen bevestig is.”
Die vordering van die herstelwerk word noukeurig gemonitor, het Kraai in sy plasing gesê.
Die kabelstelsel gaan gedurende die herstel -en instandhoudingswerk nie aktief wees nie. Die datums is egter ook onderhewig aan verandering as gevolg van veranderende weersomstandighede, verduidelik Ekandjo aan kliënte. Kraai meen egter dat alle betrokke partye nou saamwerk om te verseker dat herstelwerk binne die geskeduleerde tydsraamwerk sal plaasvind.
Instandhouding aan die kabel is volgens MTC ‘n gereelde verskynsel en word gewoonlik geskeduleer om herstelwerk, opgraderings of ander noodsaaklike werk aan die kabel moontlik te maak.
Die kabel wat in 2009 by Yzerfontein as ‘n landingspunt in Suid-Adfrika vanaf Portugal aangekom het, verseker direkte internetverbinding tussen Namibië, Wes-Afrika, die Verenigde Koningkryk en die res van die wêreld.
Die ander landingspunte is onder meer in Namibië, Angola, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Kameroen, Nigerië, Togo, Ghana, Ivoorkus, Kaap Verde, asook die Kanariese Eilande, Portugal en die Verenigde Koninkryk.