Twee mans wat vermoedelik betrokke was by ‘n skietvoorval twee weke gelede in Hawston in die Overberg waarin drie jong mans dood is, sal vandag (Vrydag, 30 Mei) in die Paarl-landdroshof verskyn.
Volgens kapt. Louise du Plessis, woordvoerder vir die Paarl-polisie, is die twee mans, onderskeidelik 35 en 39 jaar oud, Woensdag (28 Mei) deur lede van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid (AGU) in ‘n veiligheidskompleks in die Paarl in hegtenis geneem.
“Die verdagtes is aangekeer nadat lede van die teenbende-eenheid inligting opgevolg het rakende die moorde in Hawston op 11 Mei.
” ‘n AK-47-geweer met agt patrone en drie 9mm-pistole met verskeie patrone is in die verdagtes se besit gevind,” het Du Plessis bygevoeg.

Drie mans – Uwellin “Pork” Salies, Vittorio Julies en ‘n derde wat slegs as Royston geïdentifiseer was – is gewond in die aanval op Moedersdag toe verskeie gewapende mans uit ‘n wit BMW met CEM-nommerplate gespring en skote op hulle afgevuur het.
Salies en Julies is op die toneel dood verklaar terwyl die derde persoon later die aand in die hospitaal aan sy beserings beswyk het.
LEES: Residents of Hawston are up in arms after murders
Die verdagtes sal vandag (Vrydag 30 Mei) op aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie in die landdroshof in Paarl verskyn.
You must be logged in to post a comment.