Die departement van water en sanitasie (DWS) is onder skoot weens sy “swak bestuur van watervlakke”. Tien sluise is verlede week by die Vaaldam oopgetrek en teen Maandag 28 April is 3 600 kubieke meter per sekonde (kumek) uit die Bloemhofdam vrygelaat. Die dam se invloei was toe 3 586 kumek.
Dit is die tweede vloed in een maand wat weens die oop sluise en water-uitlatings ondervind word. Heelwat huise en plase rivieraf teen die Vaalrivier is oorstroom.
Ook talle brûe en paaie tot by die samevloeiing van die Vaal- en Oranjerivier buite Douglas in die Noord-Kaap is onder water. Verskeie brûe en paaie verder af langs die Oranjerivier, tot waar dit by Alexanderbaai aan die Noord-Kaapse kuslyn uitmond, is ook oorstroom.
In Bloemhof is gastehuise op die rivieroewer, huise, paaie en die gholfbaan oorstroom terwyl water aan die N12-nasionale pad klots. In Christiana kom soortgelyke oorstromings voor.
Dit kom ná buitengewone reënval die afgelope maande in die Vaalrivierstelsel se opvangsgebied, wat ook die Vaal- en Bloemhofdam vul. Die grond is boonop oorversadig. Teen Maandag was die Vaaldam 118% vol, Bloemhofdam 117%, Gariepdam 112% en Vanderkloofdam 108%.
Georganiseerde landbou, sakelui en inwoners beskuldig die departement van swak waterbestuur en kortsigtigheid. Dit kom nadat Pemmy Majodina, minister van waterwese, onlangs tydens ‘n besoek aan die gebied waar mense oor die vloede gekla het, gedreig het sy sal nog sluise oopmaak, en almal wat onder die vloedlyn gebou het “wegspoel”.
‘Waarskuwings traak amptenare min’
Naudé Pienaar, uitvoerende hoof van Agri Noordwes, sê die departement steur hom nie aan raad en gesprekke om die damvlakke oor tyd beter te bestuur nie.
“Die departement hou by dekades-oue norme en standaarde. In plaas van om water vry te laat en die watervlakke aan te pas wanneer dit erg in die opvangsbiede reën, glo hulle die damme moet altyd 100% vol bly. Wanneer daar te veel water afkom, word die sluise skielik oopgemaak en verskriklike skade veroorsaak.”
Hy sê die enigste manier hoe die departement gaan luister, is wanneer mense vir skadevergoeding dagvaar.
“Waarskuwings oor verlore werksgeleenthede en voedselsekerheid traak die amptenare min.”
Naudé Pienaar, uitvoerende hoof Agri Noordwes
Pienaar sê die meerderheid bou nie op die vloedlyn nie, en dat die minister se argument nie water hou nie.
“Van die grootste skade is by mense wat wetsgehoorsaam is,” sê hy.
Die beskadigde wal van die Bloemhofdam bekommer hom.
“Dit lyk die minister se verklaring ʼn paar weke gelede dat kontrakteurs reeds aangestel is om die skade te herstel, was onwaar. Daar gaan eers in Junie ʼn kontrakteur aangestel word. My versoek dat amptenare die ingenieursverslae en werk wat gedoen gaan word aanstuur, bly onbeantwoord.”
‘Toerisme-, landboubedryf erg benadeel’
Sias Meyer, sakeman en eienaar van die Plek vanni Visarend-gastehuis in Bloemhof, sê die toerismebedryf is erg benadeel.
“Dit is die tweede vloed in April, en sakemanne vanaf Vanderbijlpark tot waar die Oranjerivier in die see vloei, verloor miljoene rande aan inkomste. Twee nasionale visvangkompetisies is die afgelope tyd in Bloemhof gekanselleer. Ons moes gaste se deposito’s teruggee, en geweldige koste aangaan om alles skoon te maak,” sê Meyer. Meer as 800 beddens van die 1 500 beddens in Bloemhof is onder water, sê hy.

“Waar is die sogenaamde geproklameerde vloedlyn waarvan die minister praat?” vra Albert Nel, VF Plus-raadslid van die Lekwa-Teemane-munisipaliteit.
“Munisipaliteite keur bouplanne goed en maak ‘n inkomste uit gelewerde dienste. Hoekom keer hulle bouplanne goed indien mense in die vloedlyn wil bou?”
Die munisipaliteite se infrastruktuur is swak weens gebrek aan instandhouding.
“Die vloede veroorsaak nog meer verwoesting. Dorps- en plaaspaaie is onbegaanbaar.”
Nel het baie simpatie met lusernboere wat weke laas lusern kon sny en geen inkomste verdien nie. Grondboontjies se gehalte verswak weens die nat grond. Boere verloor inkomste by die dag, en al die insetkoste is verlore, sê Nel.
“Departementele amptenare het geen benul wat vooruitbeplanning behels nie. Besef hulle nie die katastrofiese gevolge van 3 600 kumek wat vrygelaat word nie? Die gevolge is enorm,” sê hy.
You must be logged in to post a comment.