TygerBurger

Van die Weskus na Brackenfell: kat se ongelooflike reis wat hom weer by sy eienaar bring

,

Persiese Chinchilla gevind amper 300km weg van waar hy `n maand gelede vermis geraak het.


Toe die groot groen oë van onder haar struike na haar opkyk, het Jeanette Mostert van Brackenfell dadelik geweet, dié kat is baie besonders.

Nie net het die honger aan sy magie geknou nie, maar Simba, ‘n vyf-jarige Persiese Chinchilla wat sy eienaar R6 000 uit die sak gejaag het, was amper 300 km weg van waar hy `n maand terug vermis geraak het. Die donserige klein viervoet het bitterlik verlang na die liefde van sy eienaar, Maryna van der Westhuizen (68) al die pad in Vredendal.

Maryna het by haar seun se vakansiehuis naby Doorspring-natuurreservaat gekuier toe Simba aan die einde van Februarie vermis geraak het.

“Hy was net eendag weg. Ons het dae lank gesoek en geroep, maar daar was geen teken van hom nie. Ek het toe later aangeneem hy is dood en is terug huis toe.”

Saamrygeleentheid

Maryna sou nooit kon raai dat Simba van die huis af gedwaal het na die nabye kampterrein waar hy vermoedelik by `n motorwoonwa ingeglip het, en saam met die vakansiegangers al die pad terug Kaapstad toe gery het nie.

In Brackenfell, raai sy, het hy weer uitgeglip en so op die terrein van Othello-aftree-oord beland waar Jeanette hom toe gekry het.

“Simba is ‘n baie mooi kat en ek kon sien dat hy goed versorg was, en dat hy toenadering gesoek het. Hy was beslis iemand se kat. Hy het elke dag onder die bos kom sit en grootoog na my gekyk. Ons het hom begin kos gee, eers buite, toe in die motorhuis en daarna in die huis waar ons hom kon binne hou. Hy is baie vriendelik en het selfs tussen ons op die bank kom sit en televisie kyk,” vertel Jeanette.

Sy het Simba se foto op ‘n verlore-troeteldier-groep geplaas sonder veel sukses, maar hom toe later na die Tygerberg- dierehospitaal geneem om te kyk vir `n mikroskyfie. Simba was inderdaad geskyf en so het Jeanette, Maryna se kontak- besonderhede verkry.

“Ek was baie verbaas om te hoor dat Simba uit die Weskus kom. Ek het gewonder hoe op aarde hy tot in Brackenfell gekom gekom het.”

Na `n bietjie nadenking het Jeanette besef dat Simba heel moontlik in een van die motorwoonwaens ingeklim het wat uitverhuur word by `n sakeonderneming naby Othello. Met `n bietjie snuffelwerk het sy ook vasgestel dat daar kampeerders in die omtrek woon wat einde Februarie naby die reservaat in die Weskus gekamp het.

“Dis die enigste verduideliking. Hy moes na die kampterrein toe gedwaal het en toe daar in die motorwoonwa geklim het,” sê sy.

Vreugdevolle reunie

Maryna was oorstelp van blydskap toe haar foon op die dag `n paar weke terug gelui het. Dit was Jeanette.

“Ek het dadelik vir haar foto’s gestuur en sy kon bevesitg dat dit inderdaad Simba was. Ek kon nie glo hoe ver hy gevind is nie. Hy is meer as net `n ongelooflike huiskat. Hy is my vertrooster en altyd by my. Dis net die liefdevolle kat wat hy is,” sê Maryna.

Ook Simba was verheug toe hy sy mense-mamma vir die eerste keer in bykans `n maand weer gesien het.

“Toe hy my stem hoor, het hy aangehardloop gekom, in my skoot gespring en aan my gesig begin ruik.

Hulle het hom so mooi versorg en dis net genade dat ons weer herenig is,” sê Maryna.

“Dis ongelooflik om te dink dat twee engele op Simba se pad gekom het, en dat daar nog soveel liefde in ons land is.

Categorised:,

You need to be Logged In to leave a comment.