Noordkaap Bulletin

Verhore sloer van beskuldigdes wat vroue aanlyn uit geld verkul

,

Verhore van ‘n Nigeriese man en sy medebeskuldigdes oor aanlynbedrog waarin vroue van die Wes- en Noord-Kaap uit geld verkul is, sloer steeds.

scrabble tiles spell out love scam on table

Die twee verhore van ‘n Nigeriese beskuldigde en sy medebeskuldigdes waarin vroue in die Wes- en Noord-Kaap met ’n aanlynafspraak-app uit miljoene rande bedrieg is, het twee jaar ná hul inhegtenisname nog nie begin nie.

Die verhore wat in die Bellville-streekhof in die Wes-Kaap aangehoor word, is vertraag weens probleme met regsverteenwoordiging. So sê Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG.

Die staat kla die beskuldigdes in albei sake aan van bedrog, of diefstal in die alternatief, geldwassery, en sameswering om die dade te pleeg.

Die beskuldigdes sit op die hofbanke.
Van die beskuldigdes in Februarie 2023 in die landdroshof in Kimberley. Van links is Pius Emokpe (49), Lulama Dilimeni (33), Shafwaan Fakier (47), Nomcebo Sibise (40) en Juany Michaels (24). Foto: Charné Kemp

In die Strand-saak word Pius Emokpe en Karabo Moses elk van 33 aanklagte van bedrog en ook ‘n aanklag van geldwassery van R1,2 miljoen aangekla. Hulle sou glo die Noord-Kaapse slagoffer met ‘n bedrogspul tydens aanlynafsprake indoen. Emokpe is kort nadat die klagte ingedien is, deur die polisie in Strand in hegtenis geneem.

Die polisie het in hul ondersoek op die Wes-Kaapse slagoffer afgekom.

In die Claremont-saak staar Emokpe saam met Lulama Dilimeni, Shafwaan Fakier, Nomcebo Sibise en Juany Michaels, elk 73 aanklagte van bedrog in die gesig. Hulle word ook aangekla van geldwassery van R4,8 miljoen, asook sameswering om die dade te pleeg.

Bankrekeninge gebruik vir geldwassery

Die bewering is dat Emokpe homself as iemand anders voorgedoen en sy slagoffers vir geld gevra het. Hy sou dit na bewering met rente terugbetaal. Van die beskuldigdes is in hegtenis geneem nadat hul bankrekeninge na bewering gebruik is om geld te was.

Sibise het glo op ’n tydstip R200 000 in haar bankrekening ontvang. Fakier werk by ’n eiendomsmaatskappy as ’n opsigter, Dilimeni is ’n skoonmaker en Michaels ’n kelnerin by ’n wynlandgoed.

Die NVG se beslagleggingseenheid het in Desember 2022 op Emokpe en sy vrou, Piliswa Emokpe, se kontant, eiendomme en motors beslag gelê. Meer as R1,3 miljoen in kontant is aan die staat verbeurd verklaar.

Die ondersoekers voer aan dat Emokpe en sy vrou nie bewys kon lewer van ’n wettige inkomste waarmee die eiendomme en motors gekoop is nie.  

Die besittings ter sprake is nagenoeg R1,3 miljoen in kontant, twee erwe in Strand in die Wes-Kaap, asook voertuie. Dié vier voertuie is ’n Hyundai Accent, Hyundai Atos, Renault Duster en ’n Toyota Rush.

Ntabazalila sê Emokpe se aansoek om nuwe regsverteenwoordiging van Regshulp Suid-Afrika word op 25 Mei in die hof in Bellville aangehoor. Sy vorige private regsverteenwoordiger het onttrek.

Indien die beskuldigdes skuldig bevind word, sal die slagoffers uit die verbeurde eiendom vergoed word.

You need to be Logged In to leave a comment.