Noordkaap Bulletin

Versamelaar elke dag besig om geskiedenis op te diep, te laat herleef

,

‘n Ywerige versamelaar van veral pangewere en enigiets te make met die Groot Trek, is elke dag besig om die geskiedenis op te diep en aan ander oor te dra.

John Roderick by 'n voorlaaier.
John Roderick hou ‘n voorlaaier vas. Foto: Charné Kemp

John Roderick is een van Kimberley se ywerigste versamelaars van veral pangewere en enigiets te make met die Groot Trek, memorabilia van die 1938- en 1947-gedenktrek, asook die inlywing van die Voortrekkermonument. Hy maak boonop elke dag geskiedenis deur sy geskiedkundige dagboek op sosialemediagroepe by te hou.

Dié inligting kry hy uit sy ryke boek- en dagboekversameling, onder meer van Jan van Riebeeck, Erasmus Smit en Louis Tregardt.

Op 2 Mei 1658 skryf Van Riebeeck van luiperds wat ses skape en die laaste drie ganse vrekgemaak het. Tregardt vertel op dieselfde dag in 1836 hoe sy seun Pieta aan jukskeie werk en ‘n ander lid van die trekgeselskap spykers maak.

“Ek het ná skool by die departement van korrektiewe dienste begin werk, waar ek al 36 jaar is. Saans ná ete sal ek aan die volgende dag se inskrywings werk en ses foto’s of prentjies soek wat daarby pas. Een van die ses prente moet iets met ossewaens te make hê,” sê Roderick.

Kakebeenwa op sy wenslysie

Hy versamel Groot Trek-lampe, -lanterns, -Bybels, -gewere, -koperbekers, -kommetjies, -tinborde, -tafels en meer.

“Dit sal wonderlik wees om ‘n oorspronklike kakebeenwa te hê, maar daar is net so agt of tien oor, en so ses of sewe replikas. Van hulle is by die Voortrekkermonument, die ATKV Hartenbos-museum en die Geloftekerk in Pietermaritzburg.”

Hyself het ‘n Merryweather-bokwa wat meer as ‘n eeu gelede in Pietermaritzburg gebou en pragtig beskilder is. Ook in sy versameling is ‘n vragwa met breë bande van sowat 12cm.

Saam met die Trekboer-vereniging maak hy en ander trekboer- en ossewa-geesdriftiges so elke twee jaar hul eie Groot Trek mee. Dan is hulle byna presies aangetrek soos die Voortrekkers, met velskoene sonder kouse. Klitsgras klou aan kouse vas en is net Sondae saam met die kispak aangetrek.

John Roderick by 'n voorlaaier.
John Roderick hou ‘n voorlaaier vas. Foto: Charné Kemp

Die moderne Trekkers maak kos en lekkernye soos melktert op die vuur. Saans sal daar nie ‘n moderne koplamp op enigeen se voorkop wees nie. Hulle gebruik vetkerse.

Kinders en ander word van die Trekgeskiedenis vertel en geleer hoe ‘n pangeweer en voorlaaier werk. Dan sing hulle ou FAK-volksliedjies terwyl iemand viool of kitaar speel. Daar word in waens, of in ‘n seiltent daarnaas, geslaap.

Roderick vertel hoe sy ouers boeke aan hom as kind gegee en hy sy liefde vir geskiedenis verdiep het.

Die huis waarin hy en sy vrou, Ronel, al meer as 30 jaar bly, voel soos ‘n museum met sy blokkiesvloere, prentjierame, boekrakke en ander ornamente en memorabilia. Aan die mure hang foto’s en afdrukke van geskiedkundige figure en gebeure soos die Slag van Bloedrivier en Bloukrans. Daar is afdrukke van Dingaan se kraal waarheen Piet Retief en sy geselskap is om ‘n traktaat te onderteken, maar toe vermoor is. In sy studeerkamer is nog boekrakke en voorlaaiers.

Werking van pangeweer ‘ongelooflik’

“Ek dood oor ‘n pangeweer, veral dié eie aan Afrika met hul dik, swaar kolwe, oftewel bobbejaanboude, meesal van stinkhout gemaak. Ek geniet dit om demonstrasies met en vertellings oor pangewere te lewer.”

Die werking van pangewere is ongelooflik, vertel hy. Hiermee is huis en haard verdedig, en kos vir die tafel geskiet.

‘n Pangeweer of voorlaaier kan hoogstens drie skote per minuut skiet omdat dit ná elke skoot gelaai moet word. Ná enkele skote het ‘n voorlaaier se loop vuurwarm geword.

Dit is hoekom Trekkers meer as een voorlaaier sou hê en hul vroue en kinders leer om dit te help laai.

Sy grootste trots is sy Frikkie Botha-sterloop-pangewere, met ‘n ster in die metaalloop ingeslaan. Botha se Kaapse geweersmidwerke (fabriek) het oor drie geslagte bestaan en het van die beste pangewere in die land vervaardig.

‘n Voortrekker het altyd sy bandolier, ‘n koeëltassie, ‘n kruithoring en sy geweer by hom gehad, want hy sou wild vir die pot skiet.

Om die wapen te laai word kruit in die loop afgegooi, en ‘n vetlappie op die tromp van die loop gesit. Daarna word ‘n bolronde loodkoeël op die lappie gesit en in die loop afgestamp met die laaistok. ‘n Bietjie kruit word in die pannetjie gegooi en die pandekseltjie toegemaak.

Die slotplaat bevat onder meer ‘n haan met twee kake wat ‘n vuursteen vasknyp. Die haan word oorgehaal en wanneer die sneller gedruk word, slaan die pandekseltjie oop.

Die flint in die haan se kake kap dan vonke van die pandekseltjie af wat die kruit in die pan laat ontbrand. Die ontbranding geskied deur ‘n gaatjie in die loop, tussen die pannetjie en die loop. Die hooflading in die loop word só die brand gesteek. Die gevolglike ontbranding en drukking forseer die loodbal en vetlap by die loop uit.

“Die Trekkers het loodstawe in loodpotte gesmelt en in vorms gegiet om koeëls van verskillende kaliber te maak.”

Roderick hoop sy twee kleinseuns sal ‘n liefde vir sy versameling aankweek en dit eendag oorneem en uitbrei. Sy oudste kleinseun heet Carolus, na Louis Tregardt se oudste seun, en die jongste Chrisjan, na genl. Christiaan de Wet.

You need to be Logged In to leave a comment.