Hoewel die strukture ná talle klagtes van inwoners afgebreek is, lê asbes en by tye mediese afval op ‘n terrein agter die Nasionale Hospitaal sonder dat dit opgeruim word.
BloemNuus het op 6 Julie 2023 berig oor die geboue wat glo jare gelede deur die departement van gesondheid opgerig is met die doel om familielede van pasiënte te huisves, maar dit is nooit in gebruik geneem nie.

Die geboue in George Home-straat, wat later die tuiste van vandale en haweloses geword het, is uiteindelik afgebreek, maar die asbesrommel bly op die perseel lê sonder dat iemand daarvoor verantwoordelikheid neem.
David Masoeu, die DA se woordvoerder oor gesondheid in die Vrystaatse Wetgewer, soek antwoorde by die LUR van openbare werke en ‘n verbintenis dat die rommel daar verwyder sal word.
“Die lemmetjiesheining om die hospitaal langs die stukkende geboue is beskadig deur mense, wat op die perseel kom steel,” sê David ná ‘n besoek aan die perseel op 10 April.
“Hulle vat dan die gesteelde eiendom met asbes en versprei dit in die woongebied, wat gesondheidsgevare vir die inwoners inhou. Die gemeenskap het verskeie straatvergaderings gehou en gekla oor die beskadigde heining en puin van die asbes op die fondasies,” sê hy. Die heining langs die straat is byna heeltemal platgetrap en hou nie meer enigeen uit nie.

Masoeu sê die DA is ontsteld oor die departement van openbare werke se versuim om te antwoord op die vraag wat aanvanklik aan die LUR van openbare werke en infrastruktuur gevra is oor die onvermoë om aandag te gee aan die verwydering van gevaarlike asbesrommel.
Die DA-raadslid, Hennie van Niekekr het die situasie van die gevaarlike puin wat op die hospitaal se perseel lê, onder die aandag van die uitvoerende hoof van die Nasionale Hospitaal gebring.
Ná verskeie vergaderings sonder optrede het Van Niekerk die saak na die provinsiale wetgewer geëskaleer, waar ingryping gesoek word vanaf die LUR vir gesondheid en die LUR vir openbare werke en infrastruktuur.
Van Niekerk.
“Die situasie is veroorsaak deur die departement van openbare werke en infrastruktuur se nalatigheid nadat die departement die twee asbesgeboue, wat leeg op die hospitaalterrein gestaan het, afgebreek het.”
Volgens die DA het die departement van openbare werke en infrastruktuur geantwoord dat die departement van gesondheid die nasionale hospitaal beset en nie bewus is van die sloping van die betrokke eiendom nie.
Die antwoord deur die wetgewende proses demonstreer die nalatigheid van die departement, wie se webwerf bepaal dat die departement van gesondheid sy kliënt is en dat daar van die departement van openbare werke en infrastruktuur verwag word om sy kliënte te bedien.
Mosoeu sê openbare werke is verantwoordelik vir die ontwerp, bou, verbetering en rehabilitasie met kliëntedepartemente, insluitend die departement van gesondheid.
Lede van die VF Plus was ook op 25 Maart saam met inwoners van die omgewing op die verlate perseel. Daar was spuitnaalde en medisyne in hope tussen die lang bosse, wat intussen gedeeltelik verwyder is.
Die inwoners sê vandale is gereeld op die perseel en gaan deur die stukkende heining om voorraad uit ‘n nabygeleë gebou op die perseel van die Nasionale Hospitaal te steel.
Die lemmetjiesdraad, wat glo teen ‘n koste van R400 000 tussen die hospitaal en die leë perseel opgerig is, is intussen oral deur vandale beskadig.
Die raadslede vra nou dat daar ‘n stewige heining om die leë perseel opgerig word, dat die asbes en vullis verwyder word en lang gras en bosse waaragter misdadigers kan wegrkuip, afgesny word.
Mondli Mvambi, woordvoerder van die departement gesondheid, wat die perseel op 26 Maart saam met beamptes van die Nasionale Hospitaal besoek het, het gesê hy sal terugvoer van die betrokke rolspelers kry, maar het nog nie BloemNuus se vrae beantwoord nie.
You must be logged in to post a comment.