Noordkaap Bulletin

Ysbeerswem-uitdaging 2025: Waar ‘n wil is, is ‘n ysige geplons

,

Die Ysbeerswem-geleenthede, ter ondersteuning van liefdadigheid, begin binnenkort met deelnemers in verskeie plekke en verskeie aktiwiteite op die program.

Dié ysbeer swem saam
Dié ysbeer skrik nie vir yskoue water nie, en swem saam. Credit: Facebook

Winterswem in ysige water wink vir dapper deelnemers aan die jaarlikse Ysbeerswem-geleenthede. Die eerste van dié gebeure, ten bate van liefdadigheid, vind eersdaags plaas.

Hiertydens swem deelnemers in ‘n dam, pan, of selfs die see. Soms vind nagswem ook plaas.

Felix Burri het die eerste Ysbeerswem-geleentheid 30 jaar gelede in die Goudveld in die sentrale binneland begin. Sedert die ontstaan hiervan was die oogmerk om geld vir liefdadigheid- en reddingsorganisasies in te samel, en drie dekades later is dit steeds die doel.

Die gewildheid van die Ysbeerswem-geleentheid in die Goudveld het genoodsaak dat Burri dit op ander plekke aanbied. Vanjaar word dit in die Goudveld-omgewing, Bloemfontein, Sutherland, Victoriabaai en Mosselbaai aangebied.

Ysbeerswem by Sutherland
Deelnemers aan 2021 se Ysbeerswem by die Roggecloof-natuurreservaat naby Sutherland moes boonop sneeu tot by die swemdam aandurf. Foto: Facebook

Afhangend van die ligging van elk van die geleenthede word ander aktiwiteite ook aangebied. By elke ligging is ander begunstigdes geïdentifiseer wat deur die geldinsameling ondersteun word. Talle borge en verskaffers het deur die jare betrokke geraak en bly steeds lojaal.

Plons van Vrystaat, Noord-Kaap, tot in Wes-Kaap

  • Op Saterdag 28 Junie plons deelnemers in die water van Aldam by die Willem Pretorius-reservaat in die Ventersburg-omgewing.

“Om 12:00 verwag ons sowat 200 geesdriftige swemmers om die donkerbruin water aan te durf,” sê Burri.

  • Op Saterdag 5 Julie kan inwoners van die Bloemfontein- en Kimberley-omgewing by Doringbos naby die Rosestad bymekaarkom om hul staal in die koue water te wys. ‘n Uitgebreide program met ander aktiwiteite word vir die dag beplan, onder meer versnelritte met landbouvoertuie. ‘n Mesgooikompetisie, in samewerking met die Bloemfontein-mesmakersklub vind plaas, asook die jaarlikse Ysbeer-baardveiling.

Om 12:00 halt die gebeure vir deelname en besigtiging van die ysbeerswem-geleentheid.

“Die verwagting is dat 50 tot 100 swemmers sal deelneem. Vir die nagswem is daar ‘n yslike groot medalje op die spel,” sê Burri.

  • Die Ysbeerswem by Sutherland word vir 12 Julie beplan en dié by Victoriabaai by George vir 19 Julie, terwyl diegene in Mosselbaai op 20 Julie die uitdaging kan aandurf.

By elk van die geleenthede is verskillende bedrae vir hetsy toegang of inskrywing van die aktiwiteite betrokke.

Bel Burri by 082 851 4584, of besoek Polar Bear/Ysbeer swem op Facebook vir die nuutste inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.