Noordkaap Bulletin

Ysige weer vir Noord-Kaap geen wolhaarstorie; hou wolkombers naby

,

Ysige temperature heers tans in die Noord-Kaap, met onverwagse reën wat plek-plek neersak. Dié koue gaan nog volgens voorspelling vir die hele week duur.

Sneeu in Richmond-omgewing
Sneeuneerslag in die Richmond-omgewing. Credit: Facebook/Vox Weather

Voorspellings van ‘n ysige Maandag vir die Noord-Kaap was nie verkeerd nie. ‘n Maksimum temperatuur van slegs 8oC word in die Noord-Kaapse hoofstad beleef, maar ‘n ysige wind en bewolkte weer, met reën wat kort-kort liggies in Kimberley neersak, verlaag die aanvoelbare temperatuur heelwat.

Volgens aanduidings gaan Dinsdag en Woensdag steeds ysige koue dae wees, met die kwik wat vanaf Donderdag effens begin klim. Bewolkte weer word nog vir Dinsdag voorspel, met sonnige toestande vir die dae daarna.

Vir Dinsdag en Woensdag word ‘n maksimum temperatuur van onderskeidelik 12oC en 13oC vir Kimberley voorspel, aldus die weerdiens yr.no. Vir die res van die week gaan die kwik in Kimberley egter steeds nie hoër as ‘n maksimum van 18oC styg nie. Minimum temperature vir die hoofstad wissel vanaf vriespunt to 5oC.

Ronel Retief het Maandagoggend 9 Junie die foto vanaf ‘n plaas buite Richmond in die Noord-Kaap gedeel. Foto: Facebook/Vox Weather/Ronel Retief

Ook in Kuruman word voorspel dat die kwik onder 18oC gaan bly, met minimum temperature wat van vriespunt tot 5oC wissel. Dinsdag en Woensdag is die maksimum temperatuur onderskeidelik 13oC en 14oC.

In Upington, word voorspel, sal die kwik teen Saterdag tot ‘n maksimum van 21oC styg, terwyl dit Dinsdag en Woensdag by 13oC en 15oC onderskeidelik draai. Die minimum temperature vir die week wissel van 2oC en 5oC.

Vanuit Upington skryf Len Fourie op Sondagaand 8 Junie op sy Facebook-blad: “Besonderse reën wat vanaand oor die Kalahari en die Oranjerivier uitsak, met bitterlike koue wat reeds opgedaag het saam met die wind.”

Maandagoggend, op die Facebook-blad Reënval in SA, skryf Suzette van Jaarsveld: “Kamieskroon weer 25mm reën Saterdag en Sondag met sneeu op Sneeukop in die Kamiesberge. Meer as 200mm al vir die jaar.”

Willem Mentz skryf dat “bietjie ysreën” Maandagoggend by Vanderkloof neergesak het.

Uitsonderlike blomtyd tans voorspel

Met die reën wat tans oor dele van die Noord-Kaap voorkom, voorspel kenners reeds ‘n uitstekende blommetyd wanneer die Namakwalandse blomme in Augustus begin blom.

Pieter van Wyk, plantkundige van die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) en werksaam by die Ai-Ais/Richtersveld-oorgrenspark, skryf: “Die Richtersveld het in Maart en April 2025 seldsame somerreën in die westelike deel van die streek ontvang. Gevolglik het seldsame spesies begin blom, sommige die eerste keer in 20 jaar. Die somerreën is gevolg deur ewe seldsame herfsreën wat eenjariges in sommige dele van die streek die seldsame geleentheid gee om moontlik in massablom te gaan.

“Indien die klimaatstoestande oor die volgende weke gunstig is, met die veranderende weer en die seldsaamheid van ‘n uitsonderlike blommetyd in gedagte, behoort blomme teen die einde van die eerste week van Julie te begin. Indien meer reën val en koel toestande heers, kan blomme tot Augustus voortduur. Dit kan maklik verander indien ‘n hittegolf en sterk winde voorkom.”

You need to be Logged In to leave a comment.